Yirmeyahu 51:51-64 Die Pad van Waarheid tot die Lewe (PWL)

51. Ons is skaam, want ons het bespotting gehoor; skande het ons gesigte bedek, want vreemdes het die Afgesonderde Plekke van die huis van יהוה ingegaan.

52. “Let daarom op, daar kom dae,” verklaar יהוה, “wanneer Ek haar afgode sal straf en die dodelik gewondes sal reg deur haar hele land kerm.

53. Al sou Bavel na die hemel opgaan en al sou sy haar hoë vesting versterk, sal verwoesters van My na haar toe afkom,” verklaar יהוה.

54. Die uitroep van ’n gehuil kom uit Bavel en van groot vernietiging vanaf die land van die Kasdeërs,

55. want יהוה gaan Bavel vernietig en Hy sal haar harde geraas uit haar laat verdwyn en hulle golwe sal bruis soos baie waters, die geraas van hulle stemme sal gehoor word,

56. want die vernietiger kom teen haar, teen Bavel en haar magtige manne sal gevang word, hulle boë stukkend gebreek word, want יהוה is ’n God van vergelding; Hy sal ten volle terugbetaal.

57. “Ek sal haar prinse, haar wyse manne, haar goewerneurs, haar leiers en haar magtige manne dronk maak dat hulle ’n ewige slaap kan slaap en nie wakker word nie,” verklaar die Koning, Wie se Naam יהוה-Tzva’ot is.

58. So sê יהוה-Tzva’ot: “Die breë muur van Bavel sal volkome platgevee word en haar hoë poorte aan die brand gesteek word sodat volke vir niks gewerk het en nasies moeg geword het, net vir vuur.”

59. Die boodskap waarmee Yirmeyahu, die profeet, vir S’rayah, die seun van Neriyah, die seun van Magseyah, beveel het, toe hy saam met Tzidkiyahu, koning van Y’hudah, na Bavel gegaan het, in die vierde jaar van sy regering. S’rayah was kwartiermeester.

60. Yirmeyahu het in ’n enkel boekrol al die katastrofes opgeskryf wat oor Bavel sou kom, al hierdie woorde wat aangaande Bavel geskryf is.

61. Toe het Yirmeyahu vir S’rayah gesê: “Sodra jy in Bavel kom, kyk dan dat jy al hierdie woorde hardop lees

62. en sê: ‘U, o יהוה, het oor hierdie plek belowe om dit af te sny sodat daar niks in dit sal bly nie, nie mens of dier nie, maar dat dit ’n ewige verlatenheid sal wees.’

63. Sodra jy hierdie boekrol klaar gelees het, moet jy ’n klip daaraan vasmaak en dit in die middel van die Eufraat gooi

64. en sê: ‘Net so sal Bavel sink en nie weer opkom nie, weens die katastrofe wat Ek oor haar gaan bring en hulle sal uitgeput wees.’” Tot sover die woorde van Yirmeyahu.2 Kon 25; Yir 37-39

Yirmeyahu 51