1. Toe koning Hizkiyahu dit hoor, het hy sy klere geskeur, hom met ’n roukleed bedek en in die huis van יהוה ingegaan.
2. Toe stuur hy vir Elyakim, wat oor die huishouding was, Shevnah, die skrywer, en die oudstes van die priesters, met rouklere bedek, na Yesha’yahu die profeet, die seun van Amotz.
3. Hulle sê vir hom: “So sê Hizkiyahu: ‘Hierdie dag is ’n dag van benoudheid, bestraffing en verwerping, want die kinders het tot by geboorte gekom en daar is geen krag om geboorte te gee nie.
4. Miskien sal יהוה, u God, die woorde van Rav-Shakeh hoor wat sy meester, die koning van Ashur, gestuur het om die Lewende God te onteer en die woorde wat יהוה, u God, gehoor het, bestraf; daarom, offer ’n gebed vir die wat oorgebly het.’”
5. Die diensknegte van koning Hizkiyahu het by Yesha’yahu gekom.
6. Yesha’yahu het vir hulle gesê: “So moet julle jul meester antwoord: ‘So sê יהוה: “Moenie bang wees as gevolg van die woorde wat jy gehoor het, waarmee die diensknegte van die koning van Ashur sleg van My gepraat het nie.
7. Let op, Ek sal ’n gees in hom plaas sodat hy ’n gerug sal hoor en na sy eie land sal teruggaan en Ek sal hom in sy eie land deur die swaard laat val.”’”
8. Toe het Rav-Shakeh teruggegaan en die koning van Ashur gekry vegtend teen Livnah, want hy het gehoor dat die koning Lakhish verlaat het
9. nadat hy hoor-sê het aangaande Tirhakah, koning van Kush: “Hy het uitgekom om teen u te veg.” Toe hy dit hoor, stuur hy boodskappers na Hizkiyahu om te sê:
10. “So moet julle vir Hizkiyahu, koning van Y’hudah, sê: ‘Moenie dat u God op wie u vertrou, u bedrieg nie deur te sê: “Yerushalayim sal nie in die hand van die koning van Ashur oorgegee word nie.”
11. Let op, u het gehoor wat die konings van Ashur aan al die lande gedoen het deur hulle volkome te vernietig. Dus, sal ú gespaar word?
12. Het die gode van daardie nasies, wat my vaders vernietig het, hulle bevry: Gozan, Haran, Retzef en die seuns van `Eden wat in Tel’assar was?
13. Waar is die koning van Hamat, die koning van Arpad, die koning van die stad van S’farvayim, van Hena en `Ivah?’”
14. Toe vat Hizkiyahu die brief uit die hand van die boodskappers, lees dit, gaan op na die huis van יהוה en sprei dit uit voor die Teenwoordigheid van יהוה.
15. Hizkiyahu het tot יהוה gebid en gesê:
16. “O, יהוה-Tzva’ot, God van Yisra’el, wat bo die gérubs op die troon is; U alleen is die God van al die koninkryke van die aarde; U het die hemel en die aarde gemaak.