1. In die vyf en twintigste jaar van ons ballingskap, aan die begin van die jaar, op die tiende van die maand, in die veertiende jaar nadat die stad ingeneem is, op daardie selfde dag, was die hand van יהוה op my en Hy het my daarheen gebring.Heb 12:22
2. In visioene van God het Hy my in die land van Yisra’el gebring en my op ’n baie hoë berg neergesit en daarop, na die suide toe, was daar ’n struktuur soos ’n stad.
3. Hy het my daarheen gebring en let op, daar was ’n man wat in sy voorkoms was soos koper, met ’n linne tou en ’n meetstok in sy hand en hy het in die poort gestaan.
4. Die man het vir my gesê: “Seun van ’n mens, kyk met jou oë, hoor met jou ore en gee aandag aan alles wat ek jou gaan wys, want jy is hierheen gebring om dit vir jou te wys. Verkondig aan die huis van Yisra’el alles wat jy sien.”
5. Let op, daar was ’n muur aan die buitekant van die tempel, reg rondom en in die man se hand was ’n meetstok van ses el; elke el was een el en ’n handbreedte. Hy het die dikte van die muur gemeet: een meetstok en die hoogte: een meetstok.
6. Toe het hy na die poort toe gegaan wat oos kyk, met sy trappe opgegaan en die drumpel van die poort gemeet: een meetstok in breedte en die ander drumpel: een meetstok in breedte.
7. Die wagkamer: een meetstok lank en een meetstok breed en daar was vyf el tussen die wagkamers. Die drumpel van die poort langs die stoep van die poort aan die binnekant: een meetstok.
8. Toe het hy die stoep van die poort aan die binnekant gemeet: een meetstok.
9. Hy het die stoep van die poort gemeet: agt el en sy sypilare: twee el; die stoep van die poort was aan die binnekant.
10. Daar was drie wagkamers by die poort na die ooste aan elke kant; al drie het dieselfde afmetings gehad. Die sypilare, weerskante, het ook dieselfde afmetings gehad.
11. Hy het die wydte van die poort-ingang gemeet: tien el; die lengte van die poort: dertien el.
12. Daar was ’n afskortingsmuur voor die wagkamers van een el aan elke kant en die wagkamers was ses el aan elke kant.