Yegezk'el 38:4-13 Die Pad van Waarheid tot die Lewe (PWL)

4. Ek sal jou omdraai en hake in jou kakebene sit, jou en jou hele leër, perde en ruiters, almal wonderlik toegerus, ’n groot menigte met die groot en die klein skild, wat almal die swaard hanteer, sal Ek uitbring;

5. Paras, Kush en Put saam met hulle, almal met skild en helm;

6. Gomer met al sy troepe, Beit-Togarmah, vanaf die uithoeke van die noorde met al sy troepe; baie volke saam met jou.

7. Wees gereed en berei jouself voor, jy en al jou menigtes wat by jou vergader het en wees vir hulle ’n wag.

8. Ná baie dae sal jy geroep word; in die laaste jare sal jy in ’n land inkom wat van die swaard herstel het, wat versamel is uit baie nasies na die berge van Yisra’el wat voortdurende puinhope was, maar sy mense is vanuit die nasies gebring en hulle bly almal in veiligheid.

9. Jy sal opgaan, jy sal kom soos ’n storm; jy sal wees soos ’n wolk wat die land oordek, jy, al jou troepe en baie volke saam met jou.”

10. So sê יהוה-God: “Dit sal gebeur in daardie dag dat daar gedagtes in jou denke sal opkom en jy sal ’n bose plan beraam

11. en sê: ‘Ek sal opgaan teen die land van ongemuurde dorpe. Ek sal teen hulle opgaan wat rustig is, wat in veiligheid woon; almal van hulle bly sonder muur met geen grendels of poorte nie;

12. om buit te maak en plunder te vat, om jou hand te draai teen die puinhope wat weer bewoon is en teen die mense wat vanuit die nasies versamel is, wat vee en goedere verkry het, wat in die middel van die aarde woon.’

13. Sh’va, D’dan, die handelaars van Tarshish en al sy dorpies sal vir jou sê: ‘Kom jy om buit te maak? Het jy jou menigte bymekaar laat kom om plunder te vat, om silwer en goud weg te dra, om vee en goedere weg te vat, om ’n groot buit te maak?’”’

Yegezk'el 38