Yegezk'el 23:2-22 Die Pad van Waarheid tot die Lewe (PWL)

2. “Seun van ’n mens, daar was twee vroue, dogters van een moeder.

3. Hulle het in Mitzrayim hoereer; in hul jeug het hulle hoereer; daar is hul borste gedruk en daar is hul maagdelike borste hanteer.

4. Hulle name was: Oholah, die oudste en Oholivah, haar suster en hulle het Myne geword en geboorte gegee aan seuns en dogters. Wat hulle name betref: Shomron is Oholah en Yerushalayim is Oholivah.

5. Oholah het gehoereer terwyl sy Myne was en sy het na haar minnaars, vanaf Ashur, haar bure,

6. wat in pers aangetrek was, goewerneurs en amptenare, almal begeerlike jongmanne, ruiters wat op perde ry, gesmag.

7. Sy het haar hoererye op hulle uitgestort, almal wat die keur manne uit Ashur was en met almal waarna sy gesmag het, met al hulle afgode het sy haarself verontreinig.

8. Sy het nie haar hoererye, vanaf die tyd in Mitzrayim, laat staan nie, want in haar jeug het manne by haar gelê en hulle het haar maagdelike borste hanteer en hul luste op haar uitgestort.

9. Ek het haar daarom oorgegee in die hand van haar minnaars, in die hand van hulle van Ashur, na wie sy gesmag het.

10. Hulle het haar naaktheid ontbloot; haar seuns en haar dogters gevat, maar haar met die swaard doodgemaak en so het sy ’n bywoord onder vroue geword en hulle het oordeel oor haar voltrek.

11. Haar suster Oholivah het dit gesien, nogtans was sy meer korrup in haar luste as sy en haar hoererye was meer as die hoerery van haar suster.

12. Sy het gesmag na die seuns van Ashur, goewerneurs en amptenare, die wat naby was, pragtig aangetrek, ruiters wat te perd ry, almal begeerlike jongmanne.

13. Ek het gesien dat sy haarself onteer het; hulle het beide dieselfde pad gevat.

14. Sy het haar hoerery vermeerder; sy het manne gesien wat op die muur afgeteken was, afbeeldinge van die Kasdeërs, geteken met kwiksulfied;

15. omgord met gordels om hulle heupe, met vloeiende tulbande op hulle koppe, almal het gelyk soos offisiere, soos die seuns van Bavel in die land van die Kasdeërs, hulle geboorteland.

16. Toe sy hulle sien, het sy na hulle gesmag en boodskappers na hulle toe gestuur, na die land van die Kasdeërs.

17. Die seuns van Bavel het na haar toe gekom, na die bed van liefde en haar verontreinig met hulle hoerery en nadat sy deur hulle verontrein is, het hulle haar gewalg.

18. Sy het haar hoererye en haar naaktheid openbaar; toe het sy My gewalg, soos wat haar suster My gewalg het.

19. Nogtans het sy haar hoererye vermenigvuldig, die dae van haar jeug onthou toe sy ’n hoer in die land van Mitzrayim was.

20. Sy het gesmag na haar minnaars, wie se geslagsdele is soos die geslagsdele van donkies en hulle uitstorting soos die uitstorting van perde.

21. So het jy na die onkuisheid van jou jeug verlang, toe jou maagdelikheid in Mitzrayim verbreek is en die borste van jou jeug geliefkoos is.

22. יהוה-God sê daarom, o Oholivah: ‘Let op, Ek sal jou minnaars aanhits teen jou, van wie jy vervreemd geraak het en Ek sal hulle van alle kante af teen jou bring:

Yegezk'el 23