Romeine 1:8-16 Die Pad van Waarheid tot die Lewe (PWL)

8. In die eerste plek dank ek my God in Yeshua, Die Gesalfde Een, vir julle almal, want daar word van julle vertroue gehoor oor die hele wêreld.

9. God, wat ek in my gees dien deur die goeie boodskap van Sy Seun, is my Getuie dat ek julle elke keer in my gebede onthou.

10. Ek soek guns dat daar nou vir my ’n manier, deur die wil van God, oopgemaak sal word, om na julle toe te kom,

11. want ek begeer sterk om julle te sien en vir julle ’n geskenk vanaf die Gees te gee sodat julle versterk mag word in Hom.

12. Saam sal ons deur júlle, sowel as mý vertroue, bemoedig kan word.

13. Ek wil dat julle weet, broers, dat ek dikwels begeer het om na julle toe te kom sodat daar ook onder julle vir my vrug kan wees, soos onder die ander nasies, maar tot nou toe verhinder is.

14. Ek is verskuldig om aan elke persoon te verkondig; teenoor Grieke sowel as barbare, teenoor wyse sowel as oningeligte mense.

15. Ek doen daarom moeite om ook aan julle wat in Rome is, die goeie boodskap te verkondig,

16. want ek skaam my nie oor die goeie boodskap nie, want dit is die krag van God tot lewe vir elkeen wat aanhou om daarin te vertrou, of dit eerstens vir die Jood is of vir die ander nasies.Hav 2:4; Mar 9:23; Heb 11:6 “Die regverdige sal vanuit vertroue lewe.”

Romeine 1