1. Sha’ul, ’n geroepe slaaf van Yeshua, Die Gesalfde Een, ’n afgevaardigde, afgesonder vir die goeie boodskap van God
2. wat Hy van die begin af deur sy profete beloof het in die afgesonderde Skrifte,
3. aangaande Sy Seun, wat na die vlees gebore is uit die saad van die huis van Dawid
4. en deur die Gees van Afsondering met krag openbaar is deur die opstanding uit die dood as die Seun van God: Yeshua, Die Gesalfde Een, ons Meester.
5. In Hom het ons onverdiende guns en die amp as afgevaardigde onder alle nasies ontvang sodat hulle die vertroue van Sy Outoriteit en Karakter kan gehoorsaam,
6. want ook julle is geroep, vanuit hulle, deur Yeshua, Die Gesalfde Een.
7. Aan almal wat in Rome is, vir wie God lief is, geroep en afgesonderd: onverdiende guns vir julle en vrede, gesondheid, voorspoed en vergenoegdheid van God, ons Vader en van ons Meester, Yeshua, Die Gesalfde Een!
8. In die eerste plek dank ek my God in Yeshua, Die Gesalfde Een, vir julle almal, want daar word van julle vertroue gehoor oor die hele wêreld.
9. God, wat ek in my gees dien deur die goeie boodskap van Sy Seun, is my Getuie dat ek julle elke keer in my gebede onthou.
10. Ek soek guns dat daar nou vir my ’n manier, deur die wil van God, oopgemaak sal word, om na julle toe te kom,
11. want ek begeer sterk om julle te sien en vir julle ’n geskenk vanaf die Gees te gee sodat julle versterk mag word in Hom.
12. Saam sal ons deur júlle, sowel as mý vertroue, bemoedig kan word.
13. Ek wil dat julle weet, broers, dat ek dikwels begeer het om na julle toe te kom sodat daar ook onder julle vir my vrug kan wees, soos onder die ander nasies, maar tot nou toe verhinder is.
14. Ek is verskuldig om aan elke persoon te verkondig; teenoor Grieke sowel as barbare, teenoor wyse sowel as oningeligte mense.
15. Ek doen daarom moeite om ook aan julle wat in Rome is, die goeie boodskap te verkondig,
16. want ek skaam my nie oor die goeie boodskap nie, want dit is die krag van God tot lewe vir elkeen wat aanhou om daarin te vertrou, of dit eerstens vir die Jood is of vir die ander nasies.Hav 2:4; Mar 9:23; Heb 11:6 “Die regverdige sal vanuit vertroue lewe.”
17. Daarin word die onpartydige opregtheid van God openbaar deur vertroue tot vertroue volgens wat geskryf is:
18. Die woede van God word daarom van die hemel af openbaar oor al die boosheid en onregverdigheid van die kinders van die mens, hulle wat die waarheid deur boosheid verhoed