Rigters 7:8-20 Die Pad van Waarheid tot die Lewe (PWL)

8. Die 300 man vat die manne se kosvoorraad en hulle ramshorings in hul hand en Gid’on het al die ander manne van Yisra’el weggestuur, elkeen na sy tent, maar die drie honderd man het hy behou en die kamp van Midyan was onder hom in die vallei.

9. Nou dieselfde nag het dit gebeur dat יהוה vir hom gesê het: “Staan op, gaan af teen die kamp, want Ek het dit in jou hand gegee,

10. maar as jy bang is om af te gaan, gaan saam met jou dienskneg Purah af na die kamp toe

11. en jy sal hoor wat hulle sê en daarna sal jou hande sterk gemaak word sodat jy teen die kamp kan aftrek.” Hy gaan toe af saam met Purah, sy dienskneg, tot by die buiteposte van die leër wat in die kamp was.

12. Nou die Midyaniete, `Amalekiete en al die seuns van die Ooste het in die laagte gelê, soveel soos sprinkane en hulle kamele was ontelbaar soos die sand aan die seestrand.

13. Toe Gid’on aankom, let op, ’n man het sy droom vir ’n ander vertel en hy het gesê: “Let op, ek het ’n droom gehad: ’n garsbrood het in die kamp van Midyan ingetuimel en gekom tot by die tent en dit geslaan sodat dit omval en onderstebo draai en die tent plat lê!”

14. Sy vriend het geantwoord: “Dit is niks minder as die swaard van Gid’on, die seun van Yo’ash, die Yisra’eliet, nie; God het Midyan en die hele kamp in sy hand gegee.”

15. Toe Gid’on die verhaal van die droom en sy uitleg hoor, het hy neergebuig in aanbidding. Hy het teruggegaan na die kamp van Yisra’el en gesê: “Staan op, want יהוה het die kamp van Midyan in julle hand gegee.”

16. Hy het die drie honderd man verdeel in drie afdelings en ramshorings en leë kruike in almal se hande gesit, met fakkels binne-in die kruike.

17. Hy het vir hulle gesê: “Kyk na my en maak net so en let op, wanneer ek by die buitelyn van die kamp kom, moet julle maak net soos ek maak.

18. Wanneer ek en almal wat by my is, op die ramshoring blaas, moet julle ook op die ramshorings blaas reg rondom die kamp en sê: “Vir יהוה en vir Gid’on!”

19. Gid’on en die honderd man wat by hom was, het by die buitelyn van die kamp gekom, aan die begin van die middelste nagwaak, toe hulle net die wagte uitgesit het. Hulle het die ramshorings geblaas en die kruike stukkend geslaan wat in hul hande was.

20. Toe die drie afdelings op die ramshorings blaas en die kruike breek, hou hulle die fakkels in hul linkerhand en die ramshorings in hulle regterhand om te blaas terwyl hulle uitroep: “’n Swaard vir יהוה en vir Gid’on!”

Rigters 7