Rigters 2:7-18 Die Pad van Waarheid tot die Lewe (PWL)

7. Die volk het יהוה gedien al die dae van Y’hoshua en al die dae van die oudstes, wat Y’hoshua oorleef het, wat al die groot werke van יהוה gesien het wat Hy vir Yisra’el gedoen het.

8. Toe is Y’hoshua, die seun van Nun, die dienskneg van יהוה, dood op die ouderdom van honderd en tien jaar

9. en hulle het hom begrawe in die gebied van sy erfenis in Timnat-Serag, op die gebergte van Efrayim, noord van die berg Ga’ash.

10. Daardie hele geslag is ook by hulle vaders versamel en ’n ander geslag het ná hulle opgestaan wat יהוה en ook die werk wat Hy vir Yisra’el gedoen het, nie geken het nie.

11. Toe het die seuns van Yisra’el boosheid in die oë van יהוה gedoen en die Ba’als gedien

12. en יהוה, die God van hulle vaders, wat hulle uit die land van Mitzrayim uitgebring het verlaat en ander gode gevolg, van die gode van die volke wat rondom hulle was en hulle voor hulle neergebuig; só het hulle יהוה tot woede uitgetart.

13. Só het hulle יהוה verlaat en die Ba’al en die `Ashtarot gedien.

14. Die woede van יהוה het gebrand teen Yisra’el en Hy het hulle oorgegee in die hand van plunderaars wat hulle beroof het en Hy het hulle verkoop in die hand van hulle vyande rondom sodat hulle nie langer kon standhou voor hulle vyande nie.

15. Waarheen hulle ook al gaan, was die hand van יהוה teen hulle ten kwade, soos יהוה gesê het en soos יהוה vir hulle gesweer het sodat hulle erg benoud was.Hand 13:20

16. Toe het יהוה rigters opgewek wat hulle bevry het uit die hande van hulle wat hulle geplunder het.

17. Tog het hulle nie na hulle rigters geluister nie, want hulle het agter ander gode aan gehoereer en hulleself voor hulle neergebuig. Hulle het gou van die pad wat hulle vaders, in gehoorsaamheid aan die opdragte van יהוה, geloop het, afgedraai; hulle het nie gedoen soos hulle nie.

18. Wanneer יהוה vir hulle rigters opwek, was יהוה saam met die rigter en het Hy hulle bevry uit die hand van hul vyande al die dae van die rigter, want יהוה was beweeg tot omgee deur hulle gekerm oor hulle onderdrukkers en hulle teisteraars,

Rigters 2