Rigters 11:26-34 Die Pad van Waarheid tot die Lewe (PWL)

26. Terwyl Yisra’el in Heshbon met sy dorpies, in `Aro’er met sy dorpies en in al die stede wat langs die Arnon lê, gebly het vir drie honderd jaar lank, waarom het julle dit nie binne daardie tyd teruggevat nie?

27. Ek het daarom nie teen u gesondig nie, maar ú doen kwaad aan my deur teen my oorlog te maak. Mag יהוה-HaShafat (die Regter) vandag oordeel tussen die seuns van Yisra’el en die seuns van `Ammon!”

28. Die koning van die seuns van `Ammon het egter die boodskap wat Yiftag vir hom gestuur het, verwerp.

29. Die Gees van יהוה het op Yiftag gekom sodat hy deur Gil’ad en M’nasheh gegaan het; toe het hy deur Mitzpeh in Gil’ad gegaan en van Mitzpeh in Gil’ad het hy aangegaan na die seuns van `Ammon.

30. Yiftag het ’n gelofte aan יהוה gedoen en gesê: “As U waarlik die seuns van `Ammon in my hand gee,Lev 27

31. dan sal dit wees dat wat ook al uitkom uit die deure van my huis om my te ontmoet, as ek in vrede terugkom van die kinders van `Ammon, aan יהוה sal behoort en ek sal dit as ’n brandoffer offer.”

32. So het Yiftag oorgegaan na die seuns van `Ammon om teen hulle te veg en יהוה het hulle in sy hand gegee.

33. Hy het hulle met ’n baie groot slag verslaan van `Aro’er af tot by die ingang van Minnit, twintig stede en sover as tot by Avel-K’ramim. So is die seuns van `Ammon verneder voor die seuns van Yisra’el.

34. Toe Yiftag in Mitzpah by sy huis kom, let op, het sy dogter uitgekom om hom te ontmoet met tamboeryn en dans. Sy was sy absoluut enigste kind; behalwe vir haar het hy geen seun of dogter gehad nie.

Rigters 11