Psalms 73:1-18 Die Pad van Waarheid tot die Lewe (PWL)

1. ’n Gedig van Asaf: met instrumentale musiek. Waarlik, God is goed vir Yisra’el en vir dié wat rein van verstand, wil en emosie is,

2. maar wat my betref, my voete was amper weg, my treë het byna gegly,

3. want ek was afgunstig op die bose toe ek die voorspoed van die bose mense sien.

4. Daar is geen einde aan hulle dood nie en hulle dwaasheid is groot.

5. Hulle deel nie in die moeite van die mens nie en word nie gepla soos ander nie;

6. daarom hou trots hulle vas, hulle het hul boosheid en geweld verberg.

7. Hulle oortredinge peul uit soos vet; hulle doen volgens die bose voorskrifte van die verstand, wil en emosie.

8. Hulle bedink en praat bose dinge; hulle praat onreg teen die Allerhoogste.

9. Hulle rig hul mond op na die hemel, maar hulle tonge sleep in die stof;

10. daarom sal My volk terugdraai hierheen en alles in oorvloed hê.

11. Hulle sal sê: “Hoe weet God en is daar kennis in die Allerhoogste?”

12. Let op, hierdie is die bose mense, wat voorspoedig is in die wêreld; hulle vermeerder in rykdom.

13. Wat my betref, ek het my verstand, wil en emosie gereinig en my hande in onskuld gewas.

14. Tog is ek die hele dag gepla en elke oggend getugtig.

15. As ek sou sê: “Ek sal soos hulle doen,” is dit vir my sonde!

16. Toe ek daaraan gedink het om dit te verstaan, was dit te pynlik vir my

17. totdat ek in die Afgesonderde Plek van God ingegaan het, toe het ek hulle einde verstaan.

18. U het hulle deel aangestel volgens hulle misleiding; U het hulle neergegooi toe hulle hulself opgelig het.

Psalms 73