Negemyah 4:4-18 Die Pad van Waarheid tot die Lewe (PWL)

4. Luister, ons God, want ons het ’n bespotting geword en draai hulle veragting op hulle eie kop terug en gee hulle as ’n prooi in die land van hulle gevangeskap.

5. Vergewe nie hulle oortredinge nie en vee nie hulle sonde voor U uit nie, want hulle het U geterg tot woede en het ons bouery teëgestaan,

6. maar wat ons betref, ons sal voortgaan om die muur te bou en die mense is besig om dit te bou en die muur is halfpad voltooi, want die mense is gewillig om te werk.

7. Toe Sanvallat, Toviyah, die Arabiere, die `Ammoniete en die Asdodiete hoor dat ’n tyd vir die voltooiing van die mure van Yerushalayim vasgestel is en dat die skeure begin om toegemaak te word, was hulle baie omgekrap.

8. Hulle het almal saamgesweer om teen Yerushalayim te kom veg en die mense te verhinder om te werk.

9. Nogtans het ons ons gebede tot ons God gebid, dat Hy wagters oor ons sou plaas, dag en nag, as gevolg van hulle.

10. Die Y’hudahiete het gesê: “Die krag van die lasdraers neem af en daar is baie gemors sodat ons nie die muur kan bou nie.”

11. Ons teëstanders het gesê: “Hulle sal niks weet of sien nie totdat ons kom en hulle aanval en doodslaan en hulle werk laat stop.”

12. Toe die Y’hudahiete, wat by hulle bly, kom, het hulle vir ons gesê: “Let op, hulle sal tien maal, uit al die plekke waar hulle bly, kom en teen julle veg

13. en hulle het reeds gekom en staan agter die muur om teen julle te veg met hulle pyle.” Ek het die mag verdeel volgens hulle families met hul swaarde, hul spiese en hul boë.

14. Ek was bang en het opgestaan en aan die edeles, die leiers en die ander mense gesê: “Moenie bang wees vir hulle nie; onthou יהוה, wat groot is en respekvol gevrees word en veg vir julle broers, julle seuns, julle dogters, julle vroue en julle huise.”

15. Dit het gebeur dat toe ons vyande hoor dat dit aan ons bekend geword het en God hulle plan verydel het, het ons almal teruggegaan na die muur, elkeen na sy werk.

16. Van dié dag af aan was die helfte van my diensknegte en die helfte van die mense besig met die werk en die ander helfte van hulle het die spiese, die skilde, die boë en die pantsers vasgehou en die owerstes het agter die Y’hudahiete gestaan.

17. Hulle wat laste gedra en gelaai het, het elkeen met een hand aan die werk en met die ander hand ’n wapen vasgehou

18. en die bouers het elkeen sy swaard aan sy heupe vasgegord en gebou terwyl die ramshoringblaser agter hom gestaan het.

Negemyah 4