Mattityahu 25:29-42 Die Pad van Waarheid tot die Lewe (PWL)

29. want aan elkeen wat het, sal gegee word en dit sal vir hom vermenigvuldig word, maar van hom wat nie het nie, van hom sal weggeneem word, ook wat hy het

30. en gooi die nuttelose slaaf uit in die buitenste duisternis; daar sal ’n gehuil wees en gekners van tande.’

31. Wanneer die Seun van die mens in Sy Gemanifesteerde Teenwoordigheid kom en al die afgesonderde engele saam met Hom, dan sal Hy sit op Sy troon van eer, lof en grootheid

32. en voor Hom sal al die nasies bymekaargemaak word en Hy sal hulle van mekaar skei net soos die skaapwagter die skape van die bokke skei

33. en Hy sal die skape aan Sy regterhand en die bokke aan Sy linkerhand laat staan.

34. Dan sal die Koning vir dié aan Sy regterhand sê: ‘Kom, julle geseëndes van My Vader, kom erf die Koninkryk wat vir julle voorberei is vanaf die ontstaan van die heelal af,

35. want Ek het honger gehad en julle het vir My kos gegee; Ek het dors gehad en julle het vir My te drinke gegee; Ek was ’n vreemdeling en julle het My ontvang;

36. Ek was kaal en julle het My aangetrek; Ek was siek en julle het My versorg; Ek was in die tronk en julle het My besoek.’

37. Dan sal die onskuldiges Hom antwoord en sê: ‘Ons Meester, wanneer het ons U honger gesien en gevoed; of dors en te drinke gegee

38. en wanneer het ons gesien dat U ’n vreemdeling is en U ontvang; of kaal en U aangetrek

39. en wanneer het ons U siek gesien of in die tronk en U besoek?’

40. Die Koning sal antwoord en vir hulle sê: ‘Dit is waar, Ek sê vir julle, in die mate waarin julle dit gedoen het vir een van die onbelangrikste van hierdie broers van My, het julle dit vir My gedoen.’

41. Dan sal Hy ook vir dié aan Sy linkerhand sê: ‘Gaan weg van My, julle vervloektes, in die ewige vuur in wat voorberei is vir die teëstander en sy engele,

42. want Ek het honger gehad en julle het My nie te ete gegee nie; Ek het dors gehad en julle het My nie te drinke gegee nie;

Mattityahu 25