10. en toe die eerstes kom, het hulle gehoop dat hulle meer sal ontvang en hulle het ook elkeen een denarion ontvang.
11. Toe hulle dit ontvang het, kla hulle by die huisheer
12. en het gesê: ‘Hierdie laastes het een uur gewerk en u het hulle gelyk behandel met ons wat die las van die dag en die hitte gedra het,’
13. maar hy antwoord en sê vir een van hulle: ‘Vriend, ek doen jou geen kwaad aan nie. Het jy nie met my ooreengekom vir een denarion nie?
14. Neem joune en gaan. Ek wil aan hierdie laaste groep gee net soos aan jou,
15. of is dit nie reg van my om met my eie besittings te maak wat ek wil nie? Het jy ’n bose oog (suinig) omdat ek goed is?’
16. Net so sal die wat laaste is, eerste wees en die wat eerste is, laaste, want baie is geroep, maar min is gekies.”
17. Toe Yeshua gereed was om op te gaan na Yerushalayim, het Hy die twaalf studentevolgelinge eenkant geneem op die pad en vir hulle gesê:
18. “Let op, ons gaan op na Yerushalayim en die Seun van die mens sal oorgelewer word aan die leierpriesters en leraars van die wet en hulle sal Hom tot die dood veroordeel
19. en Hom oorlewer aan die nie-Jode en hulle sal Hom spot, gésel en kruisig en op die derde dag sal Hy opstaan.”
20. Toe kom die moeder van die seuns van Zavdai met haar seuns na Hom toe en val voor Hom neer om iets van Hom te vra