Mattityahu 13:16-27 Die Pad van Waarheid tot die Lewe (PWL)

16. maar julle oë is geseën omdat hulle sien en julle ore omdat hulle hoor.

17. Dit is waar, Ek sê vir julle, baie profete en onskuldiges het begeer om te sien wat julle sien en het dit nie gesien nie en om te hoor wat julle hoor en het dit nie gehoor nie,

18. maar luister julle na die vergelykende storie van die saad.

19. Elkeen wat die boodskap van die Koninkryk hoor en nie verstaan nie, in hom kom die bose een en gryp weg wat in sy verstand, wil en emosie gesaai is; dit is wat langs die pad gesaai is.

20. Dit wat op die rots gesaai is: dit is hy wat die boodskap hoor en dit in ’n kort rukkie met blydskap aanvaar,

21. maar hy het geen wortel in homself nie en is net vir ’n tyd en as daar moeilikheid en vervolging kom ter wille van die boodskap, val hy dadelik uitmekaar.

22. Dit wat tussen die dorings gesaai is: dit is hy wat die boodskap hoor, maar die dinge van hierdie wêreld en die misleiding van rykdom versmoor die boodskap en hy is sonder vrugte.

23. Die wat op die goeie grond gesaai is: dit is hy wat My boodskap hoor en verstaan en vrugte dra: sommige ’n honderd-, sommige sestig-, sommige dertigvoudig.”

24. ’n Ander vergelykende storie het Hy aan hulle vertel en gesê: “Die Koninkryk van die hemel is soos ’n man wat goeie saad in sy land gesaai het,

25. maar terwyl die mense slaap, het sy vyand gekom en darrel (vals koring) tussen die koring gesaai en weggegaan.

26. Toe die blare opgroei en die spruitjies vrugte vorm, toe verskyn die darrel ook.

27. Die diensknegte van die meester van die huis het na hom toe gekom en vir hom gesê: ‘Ons meester, let op, het u dan nie goeie saad in u land gesaai nie? Waar kom die darrel dan vandaan?’

Mattityahu 13