12. dan laat julle hom niks meer doen vir sy vader of sy moeder nie.
13. Julle onteer die boodskap van God ter wille van die tradisies wat julle begin het en julle doen baie soortgelyke dinge.”
14. Yeshua het na die hele menigte mense geroep en vir hulle gesê: “Luister almal na My en verstaan:
15. daar is niks wat van buite af in die mens ingaan wat die vermoë het om hom onrein te maak nie, maar dit wat uit hom uitgaan, dít is wat die mens onrein maak.
16. Wie ook al ’n oor het wat kan hoor, laat hom hoor!”
17. Toe Hy in die huis ingegaan het, weg van die skare af, vra Sy studentevolgelinge Hom oor daardie vergelykende storie
18. en Hy sê vir hulle: “Is julle net so sonder begrip. Weet julle nie dat niks, wat van buite af in die mens ingaan, hom onrein kan maak nie
19. omdat dit nie ingaan in sy verstand nie, maar in die maag, wat alle kos reinig, en uitgewerp word?
20. Wat uit die mens uitgaan, dit maak die mens onrein,
21. want uit die binneste, uit die verstand, wil en emosie van die mens, kom die bose gedagtes: egbreuk, seksuele immoraliteit, diefstal, moord,
22. gierigheid, boosheid, misleiding, onbeheerbaarheid, ’n bose oog (suinigheid), lastering, trots en doellose dinge.
23. Al hierdie booshede kom uit die binneste en maak die mens onrein.”
24. Yeshua het van daar af opgestaan en gekom by die gebied van Tzor en Tzidon en Hy het in ’n huis ingegaan sodat niemand dit sou weet nie, maar dit was onmoontlik om ongesiens te bly,
25. want ’n sekere vrou, wie se dogter ’n onrein gees gehad het, het dadelik van Hom gehoor en gekom en voor sy voete neergeval.
26. Sy was egter ’n nie-Joodse vrou, gebore in Siro-Fenisië en sy het Hom gesmeek om die demoon uit haar dogter uit te dryf.