Markos 14:1-10 Die Pad van Waarheid tot die Lewe (PWL)

1. Oor twee dae sou dit Pesag en die Fees van Ongesuurde Brode wees. Die leierpriesters en die leraars van die wet het gesoek hoe hulle Hom slinks kon vang en doodmaak,

2. maar hulle het gesê: “Nie tydens die fees nie, want die mense sal in oproer kom.”

3. Terwyl Hy in Beit-Anyah was, in die huis van Shim’on, die pottebakker en skuinslê by die tafel, kom daar ’n vrou met ’n alabaste fles met geparfumeerde olie: die beste, baie waardevolle nardussalf en sy maak dit oop en gooi dit oor Yeshua se kop,

4. maar daar was sommige van Sy studentevolgelinge wat by hulleself ontevrede was en gesê het: “Hoekom is die geparfumeerde olie gemors,

5. want dit kon moontlik vir meer as drie honderd denarii verkoop en die geld aan die armes gegee word?” Hulle was verontwaardig teenoor haar.

6. Yeshua sê egter: “Los haar uit. Waarom gee julle haar moeilikheid? Sy het ’n mooi daad vir My gedoen,

7. want julle het altyd die armes by julle en wanneer julle so sou kies, kan julle aan hulle goed doen, maar Ek is nie altyd by julle nie.

8. Dit wat vir haar moontlik was, het sy gedoen. Sy het vooruit My liggaam vir die begrafnis gesalf.

9. Dit is waar, Ek sê vir julle, oral waar hierdie goeie boodskap van My oor die hele wêreld verkondig word, daar sal ook gepraat word van wat sy gedoen het, tot ’n nagedagtenis aan haar.”

10. Y’hudah van K’riot, een van die twaalf, het na die leierpriesters gegaan met die doel om Hom aan hulle oor te lewer.

Markos 14