Luka 5:21-33 Die Pad van Waarheid tot die Lewe (PWL)

21. Die leraars van die wet en die Fariseërs het dit ernstig oordink en gesê: “Wie is Hy wat so kwaadpraat van God? Wie kan sondes vergewe behalwe God alleen?”

22. Yeshua het hulle gedagtes geken en Hy antwoord en sê vir hulle: “Wat bedink julle in jul gedagtes?

23. Wat is makliker, om te sê: ‘Jou sondes is vir jou vergewe;’ of om te sê: ‘Staan op en loop?’

24. Sodat julle egter kan sien dat die Seun van die mens outoriteit het om op aarde sondes te vergewe,” sê Hy vir die verlamde man: “Ek sê vir jou, staan op, tel jou draagbaar op en gaan na jou huis toe.”

25. Hy staan toe onmiddellik voor hulle op, tel die draagbaar waarop hy gelê het op en gaan na sy huis toe terwyl hy God loof.

26. Verwondering het almal aangegryp. Hulle het God geloof, is met respekvolle vrees vervul en het gesê: “Ons het vandag wonders gesien.”

27. Ná hierdie dinge het Yeshua uitgegaan en ’n belastinggaarder, met die naam van Levi, by die belastinghuis sien sit en vir hom gesê: “Volg My”

28. Hy het alles agtergelaat, opgestaan en Hom gevolg.

29. Levi het ’n groot ontvangs vir Hom in sy huis gegee en daar was ’n groot skare belastinggaarders en ander wat saam met hulle aan tafel aangesit het.

30. Die leraars van die wet en die Fariseërs het by Sy studentevolgelinge gekla en gesê: “Waarom eet en drink julle saam met die belastinggaarders en sondaars?”

31. Yeshua antwoord hulle en sê: “Die wat gesond is, het die dokter nie nodig nie, maar die wat siek is of siek word.

32. Ek het nie gekom om onskuldiges te roep nie, maar sondaars tot erkenning, berou en omkeer.”

33. Hulle sê vir Hom: “Waarom vas en bid Yoganan se studentevolgelinge getrou; so ook dié van die Fariseërs, maar U s’n eet en drink?”

Luka 5