Luka 5:1-12 Die Pad van Waarheid tot die Lewe (PWL)

1. Dit het gebeur dat die skare mense rondom Hom bymekaargekom het om die Boodskap van God te hoor. Hy het langs die meer van Gennesar gestaan

2. en Hy het twee bote langs die meer gesien lê en die vissers wat van hulle afgekom het, was besig om die nette te was.

3. Hy het in een van die bote, wat aan Shim’on Kefa behoort het, geklim en hom gevra om ’n entjie van die land af weg te vaar en Hy het gaan sit en die mense vanuit die boot geleer.

4. Toe Hy klaar gepraat het, sê Hy vir Shim’on: “Vaar uit na die diep water en laat julle nette sak vir ’n vangs.”

5. Shim’on antwoord en sê vir Hom: “Leermeester, ons het die hele nag hard gewerk en niks gevang nie, maar op U woord sal ek die net laat sak.”

6. Toe hulle dit gedoen het, het hulle ’n baie groot hoeveelheid visse gevang, tot hulle net wou skeur

7. en hulle wys vir hulle medewerkers in die ander boot om hulle te kom help en toe hulle gekom het, het hulle altwee die bote so vol gemaak dat hulle amper gesink het.

8. Toe Shim’on Kefa dit sien, val hy neer by die voete van Yeshua en sê: “Ek smeek van U my Meester, gaan weg van my, want ek is ’n sondaar!”

9. ’n Diepe respek het hom en almal wat by hom was aangegryp, oor die hoeveelheid vis wat hulle gevang het

10. en net so ook vir Ya’akov en Yoganan, die seuns van Zavdai, wat Shim’on se medewerkers was en Yeshua sê vir Shim’on: “Moenie bang wees nie; van nou af sal jy mense vang tot verlossing.”

11. Hulle het die bote aan land gebring, alles agtergelaat en Hom gevolg.

12. Terwyl Yeshua in een van die dorpe was, kom daar ’n man, oortrek met melaatsheid en toe hy Yeshua sien, val hy op sy gesig en smeek Hom en sê: “My Meester, as U wil, kan U my reinig.”

Luka 5