2. Hierdie eerste sensus het plaasgevind toe Quirinus geheers het oor Sirië
3. en almal het gegaan, elkeen om in sy stad geregistreer te word.
4. Yosef het ook opgegaan vanaf die stad Natzeret, in die Galil, na die stad van Dawid, in Y’hudah, wat Beit-Legem genoem word omdat hy van die huis en geslag van Dawid was,
5. om hom daar te laat registreer saam met Miryam, sy bruid, wat swanger was.
6. Dit was so dat terwyl hulle daar was, die tyd vervul is dat sy geboorte moes gee
7. en sy het geboorte gegee aan haar eersgebore Seun en Hom in doeke toegedraai en Hom in ’n krip neergelê omdat daar vir hulle geen plek was om in oor te bly nie.
8. Daar was skaapwagters wat in die streek gebly het en in die nag oor hulle skape wag gehou het
9. en let op, daar staan ’n boodskapper van יהוה by hulle en die Gemanifesteerde Teenwoordigheid van יהוה het oor hulle geskyn en hulle was baie bang.
10. Die boodskapper sê vir hulle: “Moenie bang wees nie, want let op, ek verkondig aan julle groot vreugde wat vir die ganse heelal sal wees,
11. want vandag is vir julle die Verlosser, wat יהוה, Die Gesalfde Een is, in die stad van Dawid gebore
12. en dit is vir julle die teken: julle sal ’n Baba kry wat in doeke toegedraai in ’n krip lê.”
13. Skielik verskyn daar saam met die boodskapper ’n groot leermag uit die hemel, wat lofprysinge tot God uitroep en sê:
14. “Eer, lof en aanbidding aan God in die hemele en op aarde: vrede, vergenoegdheid, gesondheid en voorspoed en goeie nuus aan die mense!”
15. Dit was terwyl die boodskappers van hulle af weggegaan het na die hemel dat die skaapwagters onder mekaar gepraat en gesê het: “Laat ons na Beit-Legem gaan en hierdie ding sien wat gebeur het, wat יהוה aan ons bekend gemaak het.”
16. Hulle het haastig gegaan en vir Yosef en Miryam gevind, saam met die Kind wat in die krip lê
17. en nadat hulle dit gesien het, het hulle die boodskap wat aan hulle bekend gemaak is aangaande Hom, dié Kind, bekend gemaak
18. en almal wat dit gehoor het, het hulle verwonder oor wat die skaapwagters aan hulle vertel het,
19. maar Miryam het al hierdie woorde bewaar en in haar gedagtes oordink.