Luka 11:20-32 Die Pad van Waarheid tot die Lewe (PWL)

20. maar as Ek deur die vinger van God die duiwels uitdryf, dan het die Koninkryk van God naby julle gekom.

21. Wanneer ’n sterk man, goed bewapen, sy huis bewaak, is sy besittings in vrede en oorvloed,

22. maar wanneer een kom wat sterker as hy is en hom oorwin, neem hy al sy wapens, waarop hy vertrou het, weg en deel sy buit uit.

23. Hy wat nie saam met My is nie, is teen My en hy wat nie saam met My bymekaarmaak nie, verstrooi.

24. Wanneer ’n vuil gees uit die mens uitgegaan het, gaan hy deur droë plekke en soek rus en as hy dit nie vind nie, sê hy: ‘Ek sal teruggaan na my huis vanwaar ek uitgegaan het.’

25. As hy kom en dit uitgevee en in orde vind,

26. dan gaan hy en bring sewe ander geeste, boser as hy self en hulle kom in en woon daar en die einde van daardie mens sal erger wees as die begin.”

27. Terwyl Hy dit sê, het ’n vrou uit die mense met ’n harde stem vir Hom gesê: “Gelukkig is die baarmoeder wat U gedra het en die borste wat U gevoed het.”

28. Hy sê vir haar: “Gelukkig is hulle wat die boodskap van God hoor en dit doen.”

29. Toe die skare saamdrom, begin Hy en sê: “Hierdie geslag is boos; dit soek na ’n teken en geen teken sal aan hul gegee word nie, behalwe die teken van die profeet Yonah,Mat 12:40

30. want net soos Yonah ’n teken geword het vir die mense van Ninveh, so sal die Seun van die mens ook wees vir hierdie geslag.

31. Die koningin van die suide sal in die oordeel opstaan saam met die manne van hierdie geslag en hulle veroordeel, want sy het gekom van die eindes van die aarde af om die wysheid van Shlomo te hoor en let op, meer as Shlomo is hier!

32. Die manne van Ninveh sal in die oordeel opstaan saam met hierdie geslag en dit veroordeel, want hulle het deur die verkondiging van Yonah berou gehad en verander en let op, meer as Yonah is hier!

Luka 11