Levitikus 9:9-21 Die Pad van Waarheid tot die Lewe (PWL)

9. Die seuns van Aharon het die bloed na hom toe gebring, hy het sy vinger in die bloed gesteek en dit aan die horings van die altaar gesmeer en die bloed aan die onderkant van die altaar uitgegooi,

10. maar die vet, die niere en die vetlap aan die lewer van die sondoffer het hy op die altaar gebrand en in rook laat opgaan soos יהוה Moshe beveel het.

11. Die vleis en die vel het hy buitekant die kamp met vuur verbrand.

12. Toe het hy die brandoffer geslag en die seuns van Aharon het vir hom die bloed aangegee wat hy rondom teen die altaar gesprinkel het.

13. Hulle het vir hom die brandoffer aangegee in stukke, met die kop en hy het dit op die altaar gebrand en in rook laat opgaan

14. en hy het die binnegoed en die pote gewas en dit op die brandoffer op die altaar gebrand en in rook laat opgaan.

15. Toe het hy die volk se offer geoffer; hy het die bok wat die sondoffer vir die volk was, geslag en dit geoffer vir sonde, soos die eerste een.

16. Hy het ook die brandoffer gebring en dit volgens voorskrif geoffer.

17. Volgende het hy die graanoffer gebring en ’n handvol daaruit gevat en dit op die altaar gebrand en in rook laat opgaan, langs die oggend se brandoffer.

18. Toe het hy ook die bul en die ram doodgemaak wat die offers vir die volk as vredesoffers was en die seuns van Aharon het vir hom die bloed aangegee, wat hy rondom, teen die altaar gesprinkel het

19. en die vet van die bul en van die ram: die vetstert, die netvet, die niere en die vetlap aan die lewer

20. en hulle het die vet op die borsstukke gesit en hy het die vet op die altaar gebrand en in rook laat opgaan.

21. Die borsstukke en die regterboud het Aharon as waaioffer voor יהוה gewaai soos Moshe beveel het.

Levitikus 9