Levitikus 23:12-21 Die Pad van Waarheid tot die Lewe (PWL)

12. Op die dag as julle die gerf waai, moet julle ’n lam in sy eerste jaar, sonder gebrek, as brandoffer tot יהוה offer.

13. Sy graanoffer daarmee saam, moet twee tiendes van ’n efa fyn meel met olie gemeng wees, as ’n offer, deur vuur, gebring tot יהוה, ’n aangename geur en sy drankoffer moet ’n kwart hin wyn wees.

14. Julle mag geen brood of gebraaide graan of vars graan eet tot op daardie selfde dag dat julle die offer tot julle God bring nie. Dit is ’n ewige instelling vir al julle geslagte, oral waar julle bly.

15. Julle moet tel van die dag ná die Shabbat, van die dag af wanneer julle die gerf van die waaioffer bring, sewe Shabbatte moet voltooi wees;Hand 2:1

16. tot die dag ná die sewende Shabbat moet julle vyftig dae tel; dan moet julle ’n nuwe graanoffer tot יהוה bring.

17. Julle moet uit jul blyplekke twee waaibrode bring; van twee tiendes van ’n efa. Dit moet van fyn meel gebak word, met suurdeeg, as eerste vrugte tot יהוה.

18. Julle moet saam met die brood, sewe lammers in hulle eerste jaar, sonder gebrek, een jong bul en twee ramme bring. Hulle moet ’n brandoffer tot יהוה wees saam met hulle graanoffer en drankoffers daarby, as offer, deur vuur, gebring tot ’n aangename geur vir יהוה.

19. Julle moet een bokram as ’n sondoffer offer, asook twee lammers in hulle eerste jaar, as ’n vredesoffer.

20. Die priester moet hulle saam met die brood van die eerste vrugte as waaioffer voor die Teenwoordigheid van יהוה waai saam met die twee lammers; hulle moet tot יהוה afgesonder wees, vir die priester.

21. Julle moet op daardie selfde dag ook ’n verklaring maak: dit is ’n afgesonderde byeenkoms vir julle; julle mag géén gewone werk doen nie. Dit is ’n ewige instelling oral waar julle bly, regdeur julle geslagte.

Levitikus 23