19. en met sy vinger van die bloed sewe maal daarop sprinkel en dit reinig en afsonder van die onreinheid van die seuns van Yisra’el.
20. Wanneer hy die toedekking van die Afgesonderde plek, die Tent van Ontmoeting en die altaar voltooi het, moet hy die lewendige bok laat naderkom
21. en Aharon moet sy twee hande op die kop van die lewende bok lê en oor hom belydenis doen van al die skuld van die seuns van Yisra’el, al hulle wetsoortredinge, al hulle sondes en hy moet dié op die kop van die bok lê en hom deur die hand van ’n man wat daar gereed staan, in die wildernis instuur
22. en hy moet die bok in die wildernis vrylaat. Die bok sal al hulle skuld na ’n eensame land wegdra.
23. Aharon moet inkom in die Tent van Ontmoeting en die linne klere uittrek wat hy aangetrek het toe hy in die Afgesonderde plek ingegaan het en dit daar los.
24. Hy moet sy liggaam op ’n afgesonderde plek in water was, sy klere aantrek en uitgaan en sy brandoffer en die brandoffer van die volk offer, om vir hom en vir die volk toedekking te doen.
25. Hy moet ook die vet van die sondoffer op die altaar brand en in rook laat opgaan.
26. Hy wat die bok vir volkome verwydering losgelaat het, moet sy klere was en sy liggaam in water was en daarna in die kamp inkom.
27. Die bul van die sondoffer en die bok van die sondoffer, waarvan die bloed ingebring is om toedekking te doen in die Afgesonderde plek, moet hulle uit die kamp uitdra en hulle velle, hulle vleis en hulle mis moet met vuur verbrand word.
28. Hy wat dit verbrand, moet sy klere was en sy liggaam in water was en daarna mag hy in die kamp inkom.
29. Hierdie sal ’n ewige instelling vir julle wees: in die sewende maand, op die tiende van die maand, moet julle in nederigheid vas en géén werk doen nie; die kind van die land sowel as die vreemdeling wat by julle besoek,
30. want op hierdie dag moet hy vir julle toedekking doen om julle te reinig van al julle sondes om voor die Teenwoordigheid van יהוה rein te wees.