Handelinge 27:1-14 Die Pad van Waarheid tot die Lewe (PWL)

1. Festos het aangaande hom bevel gegee dat hy na die keiser gestuur moet word in Italië en hulle het Sha’ul en die ander gevangenes saam met hom, oorgegee aan ’n kaptein oor ’n honderd van die keiserlike regiment, met die naam van Youlios.

2. Toe dit tyd was vir ons om te gaan, het ons aan boord ’n skip van Adramuttenos gegaan, wat op pad was na die gebied van Asië en Aristargos van Makedonia, ’n man van Thessalonike, het saam met ons opgeklim.

3. Die volgende dag het ons by Tzidon aangeland en Youlios het Sha’ul met omgee behandel en hom toegelaat om na sy vriende toe te gaan en verfris te word.

4. Daarvandaan het ons weggeseil, onderkant Kupros verby omdat die winde teen ons was.

5. Ons het ook die see langs Kilikia en Pamfulia deurgevaar en by Mura in Lukia aangekom.

6. Daar het die kaptein oor honderd ’n skip van Alexandria gekry, wat na Italië sou vaar en ons daarop gesit,

7. maar ons het baie dae lank stadig gevaar en met moeite regoor die eiland Knidos gekom en omdat die wind ons nie toegelaat het nie, onderkant Krete langs gevaar, oorkant die stad Salmone.

8. Toe ons dit met moeite verbygeseil het, kom ons by ’n plek wat Mooihawens genoem word, naby die stad Lasaia,

9. maar omdat baie tyd verbygegaan het, dit al gevaarlik geword het om te seil en die vasdag van ‘Yom-Kippur’ ook al verby was, het Sha’ul aanbeveel

10. en gesê: “Manne, ek het gesien dat die reis met beserings en groot skade gepaard sal gaan, nie alleen vir die vrag en die skip nie, maar ook vir ons lewens.”

11. Die kaptein oor ’n honderd het egter meer na die skeepskaptein en die eienaar geluister as na die woorde van Sha’ul.

12. Omdat die hawe nie geskik was om daar te oorwinter nie, het die meerderheid ook aangeraai om daarvandaan weg te vaar en indien moontlik Foinix, ’n hawe in Krete, wat ooplê na die suide, te bereik om te oorwinter.

13. Toe die suidewind waai, het hulle gedink dat hulle hul plan kon uitvoer en die ankers gelig en teen Krete verbygeseil,

14. maar nie lank daarna nie is ’n tifoonwind wat Tifoon Eurokludon genoem is, op ons neergegooi.

Handelinge 27