1. Die Afgevaardigdes en die broers wat in Y’hudah was, het gehoor dat die ander nasies ook die boodskap van God aanvaar het
2. en toe Shim’on opgaan na Yerushalayim, het die wat uit ‘die besnydenis groep’ was, hom teëgestaan
3. en gesê: “Jy het in die teenwoordigheid van onbesnede manne ingegaan en saam met hulle geëet.”
4. Shim’on het tussenbeide getree en vir hulle gesê:
5. “Toe ek in die stad Yafo in gebed was, het ek in ’n visioen ’n voorwerp, soos ’n groot laken, uit die hemel sien neerdaal, wat aan die vier hoeke uit die hemel afgesak het en dit het tot by my gekom.
6. Ek het daarna gekyk en diere daarin gesien; viervoetige diere van die aarde, kruipende diere en die voëls van die hemel
7. en ek het ’n stem vir my hoor sê: ‘Shim’on, staan op en eet!’
8. Ek het geantwoord: ‘Nooit nie, my Meester, want ek het nog nooit iets vuils of onrein geëet nie.’
9. Die stem het weer uit die hemel geantwoord: ‘Wat God rein gemaak het, mag jy nie vuil ag nie.’
10. Dit het drie maal gebeur en alles is weer opgetrek in die hemel in
11. en dadelik sien ek drie manne, wat van Kaisareia af na my toe gestuur is, voor die ingang staan waar ek gebly het.
12. Die Gees het vir my gesê dat ek saam met hulle moes gaan sonder om te twyfel. Hierdie ses broers het ook saam met my gegaan en ons het in die man se huis ingegaan
13. en hy het aan ons verduidelik hoe die boodskapper in sy huis verskyn en vir hom gesê het: ‘Stuur manne na Yafo en laat vir Shim’on haal, wat ook Kefa genoem word,
14. wat vir jou woorde sal bring waardeur jy en jou hele huis lewe sal ontvang.’