41. So was ek in u huis vir twintig jaar; ek het u veertien jaar gedien vir u twee dogters en ses jaar vir u kleinvee en u het my loon tien maal verander.
42. As die God van my vader, die God van Avraham en die Vrees van Yitz’gak, nie by my was nie sou u my sekerlik nou met leë hande weggestuur het. God het my swaarkry en die moeitevolle werk van my hande gesien en u verlede nag bestraf.”
43. Lavan antwoord en sê vir Ya’akov: “Hierdie dogters is my dogters en hierdie seuns is my seuns en hierdie troppe is my troppe, alles wat jy sien, is myne, maar wat sal ek my dogters vandag kan aandoen of aan hulle seuns waaraan hulle geboorte gegee het?
44. Kom daarom nou, laat ek en jy ’n verbond sluit sodat dit ’n getuienis kan wees tussen my en jou.”
45. Daarop het Ya’akov ’n klip gevat en dit as ’n monument opgerig.
46. Ya’akov het aan sy familie gesê: “Maak klippe bymekaar” en hulle het klippe gaan haal en ’n hoop gemaak en daar, op die hoop, geëet.
47. Lavan het dit Y’gar-Sahaduta genoem, maar Ya’akov het dit Gal-`Ed genoem.
48. Lavan het gesê: “Hierdie hoop is vandag ’n getuie tussen my en jou.” Hulle het dit daarom Gal-`Ed genoem,
49. asook HaMitzpah, want hy het gesê: “Mag יהוה wag hou tussen my en jou as ons weg is van mekaar.
50. As jy my dogters laat swaarkry en as jy ander vroue neem behalwe my dogters, dan, al is geen mens by ons nie, let op, God is getuie tussen my en jou.”
51. Lavan sê ook vir Ya’akov: “Let op, die hoop en die monument wat ek tussen my en jou opgerig het;
52. hierdie hoop is getuie en die monument is getuienis dat ék nie na jou kant toe verby hierdie hoop sal trek nie en dat jy nie na my kant toe verby hierdie hoop en hierdie monument sal trek met boosheid nie.
53. Die God van Avraham, die God van Nagor en die God van hulle vader, sal Regter wees tussen ons.” Ya’akov het gesweer by die Respekvolle Vrees van sy vader Yitz’gak.
54. Ya’akov het ’n offer op die berg geslag en sy broers genooi om brood te eet. Hulle het brood geëet en die hele nag op die berg gebly.
55. Lavan het die oggend vroeg opgestaan en sy seuns en sy dogters gesoen en hulle geseën. Lavan het vertrek en teruggegaan na sy plek.