Genesis 25:11-22 Die Pad van Waarheid tot die Lewe (PWL)

11. Ná die dood van Avraham het God sy seun Yitz’gak geseën en Yitz’gak het by Be’er-Lagai-Ro’i gebly.

12. Dit is die stamboom van Yishma’el, die seun van Avraham, wat vir Avraham by Hagar, die Mitzrayitiese slavin van Sarah, gebore is.

13. Dit is die name van die seuns van Yishma’el, hulle name volgens hulle geboorte: die eersgeborene van Yishma’el, N’vayot; dan Kedar, Adbe’el, Mivsam,

14. Mishma, Dumah, Massa,

15. Hadad, Teima, Y’tur, Nafish en Kedmah.

16. Hierdie is die seuns van Yishma’el en dit hulle name, volgens hulle dorpe en kastele; twaalf heersers volgens hulle nasies.

17. Dit is die lewensjare van Yishma’el: honderd sewe en dertig jaar en hy het die asem uitgeblaas en is dood en hy is by sy volksgenote versamel.

18. Hulle het gaan bly vanaf Havilah tot by Shur wat oos van Mitzrayim lê, in die rigting van Ashur. Hy het naby al sy broers gaan bly.

19. Dit is die geskiedenis van Yitz’gak, die seun van Avraham: Avraham was die vader van Yitz’gak

20. en Yitz’gak was veertig jaar oud toe hy Rivkah, die dogter van B’tu’el, die Arameër uit Paddan-Aram, die suster van Lavan, die Arameër, vir hom as vrou gevat het.

21. Yitz’gak het gebid tot יהוה namens sy vrou, want sy was onvrugbaar en יהוה het sy gebed verhoor sodat sy vrou Rivkah swanger geword het.

22. Die seuns het teen mekaar baklei binne-in haar. Toe sê sy: “As dit reg is so, hoekom leef ek?” Sy het gegaan om van יהוה te vra

Genesis 25