14. en die onbesnede manlike persoon, wat nie aan die vlees van sy voorhuid besny is nie, dié persoon moet afgesny word van sy volk; hy het My verbond gebreek.
15. God het ook vir Avraham gesê: “Wat jou vrou, Sarai, betref, moet jy haar nie Sarai noem nie, maar haar naam sal Sarah wees
16. en Ek het haar geseën en sal jou uit haar ook ’n seun gee. Ja, Ek sal hom seën en nasies van hom maak; konings van volke sal uit hom voortkom.”
17. Toe val Avraham op sy gesig en lag en sê in sy binneste: ‘Kan daar vir een wat honderd jaar oud is, ’n kind gebore word, of kan Sarah, wat negentig jaar oud is, geboorte gee?’
18. Avraham sê vir God: “Ag, dat Yishma’el in U Teenwoordigheid kan leef!”
19. God antwoord Avraham: “Waarlik, jou vrou, Sarah, sal vir jou geboorte gee aan ’n seun en jy moet hom Yitz’gak noem en Ek sal My verbond met hom vasstel as ’n ewige verbond en met sy nageslag ná hom.
20. Wat Yishma’el betref, Ek het jou ook gehoor. Let op, Ek het hom geseën en maak hom vrugbaar en vermeerder hom uitermate oorvloedig. Hy sal die vader word van twaalf prinse en Ek sal hom ’n groot nasie maak,
21. maar My verbond sal Ek vasstel met Yitz’gak, aan wie Sarah, volgende jaar in hierdie seisoen, geboorte sal gee vir jou.”
22. Nadat God klaar met hom gepraat het, het Hy van Avraham af opgegaan.
23. Avraham het sy seun Yishma’el gevat, almal wat in sy huis gebore is en almal wat met sy geld gekoop is; almal wat manlik was onder die mense in die huis van Avraham en hy het die vlees van hulle voorhuid nog op daardie selfde dag besny, soos God vir hom gesê het.
24. Avraham was nege en negentig jaar oud toe hy aan die vlees van sy voorhuid besny is
25. en sy seun, Yishma’el, was dertien jaar oud toe hy aan die vlees van sy voorhuid besny is.
26. Avraham en sy seun Yishma’el is op daardie selfde dag besny
27. en al die manne van sy huis; die wat in sy huis gebore is en die wat van vreemdelinge met geld gekoop is, is saam met hom besny.