1. In begin het God die hemele en die aarde geskep.Yes 48:13
2. Die aarde was vormloos en leeg en duisternis was oor die diep watermassa en die Gees van God het gehang oor die oppervlak van die water.
3. God het gesê: “Laat daar lig wees!” en daar was lig.
4. God het gesien dat die lig goed was en God het die lig van die duisternis geskei.
5. God het die lig ‘Dag’ genoem en die duisternis het Hy ‘Nag’ genoem. Dit was aand en dit was oggend, die eerste dag.
6. God het gesê: “Laat daar ’n ruimte wees tussen die waters en laat dit ’n skeiding maak tussen water en water.”
7. God het die ruimte gemaak en die water wat onder die ruimte is, geskei van die water wat bo die ruimte is en dit was presies so.
8. God het die ruimte hemel genoem. Dit was aand en dit was oggend, die tweede dag.
9. God het gesê: “Laat die water onder die hemel op een plek bymekaarkom sodat die droë grond sigbaar word” en dit was presies so.
10. God het die droë grond ‘Aarde’ genoem en die versameling van die waters het Hy ‘See’ genoem en God het gesien dat dít goed was.
11. God het gesê: “Laat die aarde groen weiding, plante wat saad gee en bome wat, volgens hulle soorte, saaddraende vrugte dra, voortbring oor die aarde” en dit was presies so.