Eksodus 37:18-28 Die Pad van Waarheid tot die Lewe (PWL)

18. Ses arms het uit die sykante uitgegaan: drie arms van die lampstaander uit die een kant en drie arms van die lampstaander uit die ander kant.

19. Daar was drie houers, gevorm soos amandelbloeisels, ’n knop en ’n blom aan die een arm en drie houers, gevorm soos amandelbloeisels, ’n knop en ’n blom aan die ander arm; dieselfde aan die ses arms wat uit die lampstaander uitgaan.

20. Aan die lampstaander self was vier houers, gevorm soos amandelbloeisels, met knoppe en blomme:

21. daar was ’n knop onder die eerste paar arms wat daaruit uitgaan en ’n knop onder die tweede paar arms wat daaruit uitgaan en ’n knop onder die derde paar arms wat daaruit uitgaan; vir die ses arms wat daaruit uitgaan.

22. Hulle knoppe en hulle arms was, alles saam, uit een stuk; een stuk slaanwerk van suiwer goud.

23. Hy het sewe lampe, die snuiters en die bakkies daarvoor van suiwer goud gemaak.

24. Hy het dit, met al sy gereedskap, van ’n talent suiwer goud gemaak.

25. Hy het die reukaltaar van akasiahout gemaak; sy lengte was ’n el en sy breedte ’n el; vierkantig. Sy hoogte was twee el. Sy horings was, daarmee saam, uit een stuk.

26. Hy het dit met suiwer goud oorgetrek: die bokant, die sykante en die horings. Hy het ook ’n goue rand daarvoor rondom gemaak.

27. Hy het ook twee goue ringe daarvoor gemaak, onderkant die rand, by sy twee hoeke, aan weerskante, as plekke vir pale om dit daarmee te dra.

28. Hy het die pale van akasiahout gemaak en dit met goud oorgetrek.

Eksodus 37