Eksodus 35:4-19 Die Pad van Waarheid tot die Lewe (PWL)

4. Moshe het met die hele vergadering van die seuns van Yisra’el gepraat en gesê: “Dít is wat יהוה beveel en gesê het:

5. Vat vanuit julle ’n bydrae aan יהוה. Laat elkeen met ’n gewillige verstand, wil en emosie dit bring as ’n bydrae aan יהוה: goud, silwer en koper;

6. blou, pers en bloedrooi materiaal, wit geweefde linne en bokhaar;

7. rooigekleurde ramsvelle, dugongvelle en akasiahout;

8. olie vir die lampstaander, speserye vir die salfolie en vir die reukwerk van speserye;

9. oniksstene en stene om in te lê in die skouerstuk en die borsplaat.

10. Almal onder julle wat kunstig is, moet kom en alles maak wat יהוה beveel het:

11. die tabernakel, sy tent, sy bedekking, sy hakies, sy borde, sy pale, sy pilare en sy voetstukke;

12. die ark en sy pale, die toedekking en die verdelingsgordyn van die toedekking;

13. die tafel met sy pale en al sy bybehore en die brode van die Teenwoordigheid;

14. asook die lampstaander vir verligting, met sy bybehore, sy lampe en die olie vir die lig;

15. die reukaltaar met sy pale, die salfolie en die reukwerk van speserye en die gordyn vir die ingang van die tabernakel;

16. die brandofferaltaar met sy raamwerk van koper, sy pale en al sy bybehore; die kom met sy voetstuk;

17. die behangsels van die voorhof, sy pilare, sy voetstukke en die gordyn van die poort van die voorhof;

18. die penne van die tabernakel, die penne van die voorhof met hulle toue;

19. die kunstig geweefde klere om in die Afgesonderde plek te bedien, die afgesonderde klere vir Aharon, die priester en die klere van sy seuns om as priesters te dien.”

Eksodus 35