1. Moshe het sy skoonvader Yitro, die nie-Levitiese priester van Midyan, se kleinvee opgepas. Hy het die kleinvee na die westekant van die wildernis gedryf en by Horev, die berg van God, gekom.
2. Die Engel van יהוה het aan hom in ’n brandende vuur uit die middel van ’n doringbos verskyn. Hy het gekyk en let op, die doringbos het gebrand met vuur en tog het die doringbos nie uitgebrand nie!
3. Moshe sê: “Ek sal afdraai en kyk na hierdie wonderlike verskynsel, waarom die doringbos nie opbrand nie.”
4. Toe יהוה sien dat hy afgedraai het om te kyk, roep God na hom vanuit die doringbos en sê: “Moshe, Moshe!” Hy antwoord: “Hier is ek.”
5. Hy sê: “Moenie nader kom nie. Trek jou sandale van jou voete af, want die plek waar jy staan, is afgesonderde grond.”
6. Verder sê Hy: “Ek is die God van jou vader, die God van Avraham, die God van Yitz’gak en die God van Ya’akov.”Mat 22:32; Mar 12:26; Luk 20:37; Hand 3:13 Moshe het sy gesig weggesteek, want hy was bang om na God te kyk.
7. יהוה sê: “Ek het aandag gegee aan die onderdrukking van My volk wat in Mitzrayim is en Ek het hulle uitroep oor hulle taakdrywers gehoor, want Ek is bewus van hulle smarte.
8. Ek het afgekom om hulle uit die hand van die Mitzrayiete te bevry en hulle te laat opgaan uit daardie land na ’n goeie en uitgestrekte land, na ’n land wat vloei met melk en heuning, na die blyplek van die Kena’aniete, Hittiete, Emoriete, P’riziete, Hiviete en Y’vusiete.
9. Nou, let op, die uitroepe van die seuns van Yisra’el het tot by My gekom en Ek het ook die onderdrukking gesien waarmee die Mitzrayiete hulle onderdruk.
10. Kom daarom nou en Ek sal jou na Farao stuur sodat jy My volk, die kinders van Yisra’el, uit Mitzrayim kan uitbring.”Hand 7:34
11. Moshe sê vir God: “Wie is ek dat ek na Farao sal gaan en dat ek die kinders van Yisra’el uit Mitzrayim sal uitbring?”
12. Hy antwoord: “Ek sal sekerlik by jou wees en dit sal vir jou ’n teken wees dat Ek jou gestuur het: wanneer jy die volk uit Mitzrayim uitgebring het, sal julle יהוה op hierdie berg aanbid.”