Deuteronomium 7:16-26 Die Pad van Waarheid tot die Lewe (PWL)

16. Jy moet al die volke wat יהוה, jou God, aan jou oorgee, vernietig. Jou oog mag hulle nie jammer kry nie en jy mag nie hulle gode dien nie, want dit sal vir jou ’n valstrik wees.

17. As jy in jou hart sou dink: ‘Hierdie nasies is groter as ek, hoe kan ek hulle onteien?’

18. Moenie vir hulle bang wees nie, maar jy moet onthou wat יהוה, jou God, aan Farao en die hele Mitzrayim gedoen het,

19. die groot toetsinge wat jou oë gesien het, die tekens en die wonders en die magtige hand en die uitgestrekte arm waardeur יהוה, jou God, jou uitgebring het. So sal יהוה, jou God, aan al die volke doen waarvoor jy bang is.

20. יהוה, jou God, sal verder ook die perdebye teen hulle stuur totdat hulle wat oorgebly het en wat vir jou wegkruip, sterf.

21. Jy moenie vir hulle bang wees nie, want יהוה, jou God, die groot en gevreesde, Magtige God, is by jou.

22. יהוה, jou God, sal hierdie nasies stukkie vir stukkie voor jou uit verjaag; jy sal nie in staat wees om hulle almal vinnig te vernietig nie, want die wilde diere sal te veel word vir jou,

23. maar יהוה, jou God, sal hulle aan jou oorgee en sal hulle oorwin met groot verwarring totdat hulle uitgewis is.

24. Hy sal ook hulle konings in jou hand oorgee en jy sal hulle naam onder die hemel laat verdwyn. Geen man sal teen jou kan staan totdat jy hulle vernietig het nie.

25. Jy moet die gekerfde beelde van hulle gode met vuur verbrand; die silwer en die goud wat daaraan is, mag jy nie begeer of vir jou vat nie sodat jy nie daardeur verstrik raak nie, want dit is verwerplik vir יהוה, jou God.

26. Jy mag ook geen verwerplike ding in jou huis inbring nie sodat jy nie saam met dit totaal vernietig word nie. Jy moet dit ten diepste verafsku en dit geheel en al haat, want dit is iets wat verban is.

Deuteronomium 7