Deuteronomium 1:35-46 Die Pad van Waarheid tot die Lewe (PWL)

35. ‘Nie een van die manne van hierdie bose geslag, sal daardie goeie land sien wat Ek met ’n eed beloof het om aan julle vaders te gee nie,

36. behalwe Kalev, die seun van Y’funneh; hy sal dit sien en aan hom en sy kinders gee Ek die land waarop hy geloop het omdat hy יהוה ten volle gevolg het.’

37. יהוה was ook kwaad vir my as gevolg van julle en het gesê: ‘Selfs jy sal nie daar ingaan nie.

38. Y’hoshua, die seun van Nun, wat voor jou staan, hy sal daar ingaan; bemoedig hom, want hy sal Yisra’el dit laat erf.

39. Meer nog, julle kleintjies en julle seuns, van wie julle gesê het: ‘Hulle sal ’n buit word,’ wat vandag geen kennis van goed of kwaad het nie, húlle sal daar ingaan, aan hulle sal Ek dit gee en húlle sal dit in besit neem,

40. maar julle, draai om en vertrek na die wildernis op die pad na die Sufsee.’

41. Toe antwoord julle en sê vir my: ‘Ons het teen יהוה gesondig; ons sal opgaan en gaan veg, net soos יהוה, ons God, ons beveel het.’ Elkeen het sy oorlogswapens aangegord en dit as maklik beskou om in die bergland op te gaan

42. en יהוה het vir my gesê: ‘Sê vir hulle: Moenie optrek of veg nie, want Ek is nie tussen julle nie, anders sal julle voor julle vyande verslaan word.’

43. So het ek met julle gepraat, tog het julle nie geluister nie, maar het julle teen die opdrag van יהוה gerebelleer en verwaand in die bergland opgetrek

44. en die Emoriete wat in dié bergland gebly het, het uitgetrek teen julle en julle gejaag soos bye en julle aan stukke geslaan van Se’ir tot by Hormah.

45. Julle het teruggekom en voor יהוה gehuil, maar יהוה wou nie na julle stem luister nie en het geen gehoor aan julle gegee nie.

46. So het julle baie dae in Kadesh gebly, volgens die dae wat julle daar gebly het.

Deuteronomium 1