Dani'el 11:33-45 Die Pad van Waarheid tot die Lewe (PWL)

33. Die regverdiges onder die mense sal baie onderrig; tog sal hulle val deur die swaard en die vuur, deur gevangeskap en berowing, ’n duisend dae lank.

34. Wanneer hulle val, sal hulle ’n klein bietjie hulp ontvang, maar baie ander teëspoed sal by hulle bygevoeg word deur misleiding.

35. Sommige van die wyse manne sal val, om hulle te toets en te onderskei, selfs tot die einde toe, want daar is ’n lang tyd voordat die vasgestelde tyd aanbreek.

36. Die koning sal doen net wat hy wil en hy sal homself oplig en groot maak bo elke afgod en sal groot verwerplikhede teen die God van die gode praat en sal voorspoedig wees totdat die woede sy doel bereik, want dit wat vas besluit is, sal uitgevoer word.

37. Hy sal ook nie die gode van sy vaders of die begeerte na vroue of enige god ag nie, want hy sal homself bo alle dinge verhoog,

38. maar in plaas daarvan sal hy die god van oorheersing vereer en ’n god wat sy vaders nie geken het nie, sal hy met goud, silwer, kosbare gesteentes en aangename dinge vereer.

39. Hy sal die sterk provinsies binneval, vegtend met vreemde gode dat hy die oorwinning kan behaal en oor baie mense heers; hy sal die land verdeel en vir ’n prys verkoop.

40. Ten tye van die einde sal die koning van die suide teen hom veg en die koning van die noorde sal teen hom aankom met strydwaens, perderuiters en baie skepe en hy sal die land inkom.

41. Hy sal ook die land van Yisra’el bereik en baie mense sal doodgemaak word, maar hierdie volke sal uit sy hand bevry word: Edom Mo’av en die wat oorbly van die seuns van `Ammon.

42. Hy sal ook sy hand uitsteek teen ander lande en die land van Mitzrayim sal nie ontsnap uit sy hande nie,

43. maar hy sal mag hê oor die skatte van goud en silwer en oor al die kosbaarhede van Mitzrayim; Put (Libië) en Kush sal sy bondgenote wees,

44. maar gerugte uit die ooste en uit die noorde sal hom pla; daarom sal hy met groot woede uitgaan om baie mense te vernietig en dood te maak.

45. Hy sal sy koninklike tent opslaan tussen die see en die berg en die Afgesonderde Plek beskerm, maar die tyd van sy einde sal kom en niemand sal hom help nie.Open 7:14 en in daardie tyd sal sommige van jou volk bevry word, elkeen wie se naam, opgeskryf in die boekrol, gevind sal word.Open 20:12

Dani'el 11