2 Sh'mu'el 12:5-23 Die Pad van Waarheid tot die Lewe (PWL)

5. Toe het Dawid se woede ontvlam teen die man en hy het vir Natan gesê: “So waar as יהוה leef, die man wat dit gedoen het, verdien om te sterf!Eks 22:1 omdat hy hierdie ding gedoen het en geen omgee gehad het nie.”

6. Hy moet viervoudig restitusie doen vir die lam

7. Natan sê toe vir Dawid: “U is die man! So sê יהוה, die God van Yisra’el: ‘Dit is Ék wat jou as koning gesalf het oor Yisra’el en dit is Ék wat jou bevry het uit die hand van Sha’ul.

8. Ek het ook die huis van jou meester vir jou gegee en die vroue van jou meester onder jou sorg en Ek het die huis van Yisra’el en van Y’hudah vir jou gegee en as dit te min was, sou Ek baie meer dinge soos hierdie byvoeg.’

9. Waarom het jy die boodskap van יהוה verag deur te doen wat verkeerd is in Sy oë? Jy het Uriyah, die Hittiet, met die swaard neergeslaan, sy vrou het jy vir jou as vrou gevat en hom deur die swaard van die seuns van `Ammon vermoor.

10. Nou, daarom sal die swaard nooit van jou huis af weggaan nie, omrede jy My verag het en die vrou van Uriyah, die Hittiet, gevat het om jou vrou te wees.2 Sh’m 16:21,22

11. So sê יהוה: ‘Let op, Ek sal boosheid opwek teen jou vanuit jou eie huishouding; Ek sal selfs jou vroue voor jou oë vat en aan jou naaste gee en hy sal in helder daglig by jou vroue lê.

12. Jy het dit weliswaar in die geheim gedoen, maar Ek sal hierdie ding doen voor die hele Yisra’el en in die helder daglig.’”

13. Toe sê Dawid vir Natan: “Ek het gesondig teen יהוה!” Natan sê vir Dawid: “So het יהוה dan ook u sonde verwyder; u sal nie sterf nie,

14. maar omdat u die vyande van יהוה deur hierdie saak geleentheid gegee het om kwaad te praat, sal die kind wat vir u gebore is, sekerlik sterf.”

15. Natan het na sy huis toe gegaan. Toe het יהוה die seun, waaraan die weduwee van Uriyah vir Dawid geboorte gegee het, getref sodat hy ernstig siek was.

16. Dawid het daarom navraag gedoen by God vir die kind en Dawid het gevas en gegaan en die hele nag op die grond gelê.

17. Die oudstes van sy huishouding het langs hom gestaan om hom van die grond af op te tel, maar hy wou nie en het ook nie kos saam met hulle geëet nie.

18. Toe het dit op die sewende dag gebeur dat die seun sterf. Dawid se diensknegte was bang om hom te vertel dat die seun dood is, want hulle het gesê: “Let op, toe die seun nog gelewe het, het ons met hom gepraat en hy het nie na ons stem geluister nie. Hoe kan ons dan vir hom sê: ‘Die seun is dood,’ aangesien hy homself skade kan aandoen.’”

19. Toe Dawid egter sien dat sy diensknegte onder mekaar fluister, het Dawid verstaan dat die seun dood is. Dawid vra vir sy diensknegte: “Is die seun dood?” Hulle antwoord: “Hy is dood.”

20. Dawid het van die grond af opgestaan, hom gewas en gesalf en ander klere aangetrek, in die huis van יהוה ingegaan en aanbid. Toe het hy na sy eie huis gekom en toe hy gevra het, het hulle kos voor hom gesit en hy het geëet.

21. Toe vra sy dienaars vir hom: “Wat is die ding wat u gedoen het? Terwyl die seun lewend was, het u gevas en gehuil, maar toe die seun sterf, het u opgestaan en kos geëet.”

22. Hy antwoord: “Toe die seun nog gelewe het, het ek gevas en gehuil, want ek het gedink: ‘Wie weet, יהוה mag onverdiende guns aan my bewys dat die seun mag leef,’

23. maar nou is hy dood; hoekom sou ek vas? Kan ek hom weer terugbring? Ek sal na hom toe gaan, maar hy sal nie na my toe terugkeer nie.”

2 Sh'mu'el 12