2 Sh'mu'el 12:20-31 Die Pad van Waarheid tot die Lewe (PWL)

20. Dawid het van die grond af opgestaan, hom gewas en gesalf en ander klere aangetrek, in die huis van יהוה ingegaan en aanbid. Toe het hy na sy eie huis gekom en toe hy gevra het, het hulle kos voor hom gesit en hy het geëet.

21. Toe vra sy dienaars vir hom: “Wat is die ding wat u gedoen het? Terwyl die seun lewend was, het u gevas en gehuil, maar toe die seun sterf, het u opgestaan en kos geëet.”

22. Hy antwoord: “Toe die seun nog gelewe het, het ek gevas en gehuil, want ek het gedink: ‘Wie weet, יהוה mag onverdiende guns aan my bewys dat die seun mag leef,’

23. maar nou is hy dood; hoekom sou ek vas? Kan ek hom weer terugbring? Ek sal na hom toe gaan, maar hy sal nie na my toe terugkeer nie.”

24. Toe het Dawid sy vrou Bat-Sh’va vertroos en by haar ingegaan en by haar gelê en sy het geboorte gegee aan ’n seun en hy het hom Shlomo genoem. יהוה het hom liefgehad

25. en ’n boodskap deur Natan, die profeet, gestuur en hy het hom Y’didyah laat noem, ter wille van יהוה.

26. Yo’av het teen Rabbah van die seuns van `Ammon geveg en die koninklike stad oorgeneem.

27. Yo’av het boodskappers na Dawid toe gestuur om te sê: “Ek het teen Rabbah geveg, ek het die koninklike stad oorgeneem;

28. daarom, maak die res van die manne bymekaar en beleër die stad en neem dit oor, of ék sal die stad self oorneem en dit sal na my vernoem word.”

29. Dawid maak al die manne bymekaar en gaan na Rabbah, veg daarteen en neem dit oor.

30. Toe vat hy die kroon van hulle koning van sy kop af en die gewig daarvan was ’n talent goud, met ’n kosbare steen daarin en dit is op Dawid se kop gesit en hy het die buit van die stad in groot hoeveelhede uitgebring.

31. Hy het ook die manne wat daarin was, uitgebring en laat werk by die sae, skerp ysterinstrumente, ysterbyle en hulle laat oorgaan na die steenoonde en so het hy met al die stede van die seuns van `Ammon gedoen. Toe het Dawid en al die manne na Yerushalayim teruggekeer.

2 Sh'mu'el 12