1. Sha’ul, ’n afgevaardigde van Yeshua, Die Gesalfde Een, deur die wil van God en die broer, Timotheos, aan die gemeente van God wat in Korinthos is en aan al die afgesonderdes wat in die hele Agaia is:
2. onverdiende guns vir julle en vrede, gesondheid, voorspoed en vergenoegdheid van God-ons-Vader en ons Meester, Yeshua, Die Gesalfde Een.Ps 94:19; Yog 14:9-11
3. Aanbiddingswaardig is God, die Vader van ons Meester, Yeshua, Die Gesalfde Een, die Vader van omgee en die God van alle ondersteuning en vertroosting,
4. wat ons ondersteun en troos in al ons beproewing sodat ons die wat in enige beproewing is, kan ondersteun en troos deur die ondersteuning en vertroosting waarmee ons self deur God ondersteun en getroos word.
5. Net soos die lyding van Die Gesalfde Een oorvloedig in ons is, so is ons ondersteuning en troos ook oorvloedig deur Die Gesalfde Een,
6. maar as ons ook ly, is dit ter wille van julle ondersteuning, troos en redding dat ons ly en as ons ook ondersteun en getroos word, is dit vir julle tot ondersteuning, troos en redding deurdat julle dieselfde lyding verduur wat ons ook ondergaan.
7. Ons versekerde verwagting vir julle is vas, want ons weet dat, as julle deelgenote is aan die lyding, net so ook aan die ondersteuning en troos.
8. Broers, aangaande die beproewing wat in Asië oor ons gekom het, wil ons dat julle weet dat ons grootliks beproef was, ver bo ons kragte sodat ons lewe op die punt was om te vergaan.
9. Wat onsself betref, het ons die oordeel van die dood ervaar sodat ons nie op onsself sou vertrou nie, maar op God, wat die dooies opwek;
10. Hy, wat ons gered het van ’n gewelddadige dood, op Wie ons versekerde verwagting is dat Hy ons ook voortdurend sal red,
11. deur die hulp van julle gebede vir ons persoonlik en dat Sy geskenk vir ons tot guns, ter wille van baie, sal wees en baie Hom mag bely, as gevolg van ons,
12. want ons roem is dit: die getuienis van ons gewete: dat ons in vrygewigheid, reinheid en die onverdiende guns van God aangewend is, veral teenoor julle en hulle by julle en in die wêreld, nie in vleeslike wysheid nie.