2 Konings 9:1-12 Die Pad van Waarheid tot die Lewe (PWL)

1. Elisha, die profeet, het een van die profete-seuns geroep en vir hom gesê: “Gordel vas jou heupe en neem hierdie kruik met olie in jou hand en gaan na RamotGil’ad.

2. Wanneer jy daar kom, soek vir Yehu, die seun van Y’hoshafat, die seun van Nimshi en gaan in en laat hom opstaan onder sy broers uit en bring hom na ’n binnekamer.

3. Vat dan die kruik met olie en giet dit op sy kop uit en sê: “So sê יהוה: ‘Ek het jou gesalf as koning oor Yisra’el.’ Maak dan die deur oop, vlug en moenie wag nie.”

4. Die jongman, die dienskneg van die profeet, het na Ramot-Gil’ad gegaan.

5. Toe hy arriveer, let op, het die bevelvoerders van die leër daar gesit en hy sê: “Ek het ’n woord vir u, bevelvoerder.” Yehu vra: “Vir wie van ons?” Hy antwoord: “Vir u, bevelvoerder!”

6. Hy het opgestaan, in die huis ingegaan en hy het die olie op sy kop uitgegooi en vir hom gesê: “So sê יהוה, die God van Yisra’el: ‘Ek het jou gesalf as koning oor die volk van יהוה, oor Yisra’el.

7. Jy sal die huis van Ag’av, jou meester, slaan sodat Ek die bloed van My knegte, die profete en die bloed van al die knegte van יהוה deur die hand van Izevel, kan wreek,

8. want die hele huis van Ag’av sal sterf en Ek sal van Ag’av almal wat manlik is in Yisra’el, beide slaaf en vryman, afsny.

9. Ek sal die huis van Ag’av maak soos die huis van Yarov’am, die seun van N’vat en soos die huis van Ba’sha, die seun van Agiyah.

10. Die honde sal Izevel eet in die gebied van Yizre’el en niemand sal haar begrawe nie.” Toe het hy die deur oopgemaak en gevlug.

11. Yehu het uitgegaan na die diensknegte van sy meester en een sê vir hom: “Is alles goed? Waarom het hierdie kranksinnige na jou toe gekom?” Hy antwoord hulle: “Julle ken die man en sy gepraat.”

12. Hulle sê: “Dit is ’n leuen! Vertel ons nou.” Hy antwoord: “So en so het hy vir my gesê: ‘So sê יהוה: Ek het jou as koning oor Yisra’el gesalf.’”

2 Konings 9