1 Kronieke 21:6-16 Die Pad van Waarheid tot die Lewe (PWL)

6. Levi, die priesters en Binyamin het hy nie onder hulle getel nie, want die woord van die koning was vir Yo’av ’n gruwel en hy was onwillig om hulle te tel.

7. Hierdie saak was verkeerd in die oë van God omdat Dawid Yisra’el getel het.

8. Toe sê Dawid vir יהוה: “Ek het groot gesondig deurdat ek hierdie ding gedoen het, maar vat nou die skuld van u kneg weg, want ek het baie dwaas gedoen.”

9. Dawid het vroeg opgestaan in die oggend en die woord van יהוה het tot Gad, die profeet gekom en gesê:

10. “Gaan en praat met Dawid en sê: ‘So sê יהוה: Drie rampe bied Ek vir jou aan; kies vir jou een dat Ek dit aan jou kan doen.’”

11. Toe kom Gad by Dawid en sê vir hom: “So sê יהוה: ‘Kies vir jouself:

12. óf drie jaar lank hongersnood in die land, óf drie maande waarin jou vyande jou sal oorwin, jou agtervolg en oor jou heers, óf drie dae lank die swaard van יהוה in Yisra’el. Oorweeg nou watter antwoord jy aan Hom sal gee wat my na jou toe gestuur het.”

13. Daarop sê Dawid vir Gad: “Ek is in groot benoudheid; laat my in die hand van יהוה val, want sy liefdevolle omgee is baie groot, maar laat my nie in die hande van mense oorgegee word nie.”

14. יהוה het ’n pes oor Yisra’el gestuur en sewentig duisend man van Yisra’el is dood.

15. יהוה het ’n engel na Yerushalayim gestuur om dit te vernietig en terwyl hy dit vernietig, het יהוה dit gesien en dit oorweeg en die ramp afgeweer en aan die engel wat vernietig het, gesê: “Jy het baie vernietig, trek nou jou hand terug!” Die engel van יהוה het by die dorsvloer van Aravnah, die Y’vusiet, gestaan.

16. Dawid het sy oë opgeslaan en die engel van יהוה tussen die aarde en die hemel sien staan met sy ontblote swaard in sy hand oor Yerushalayim uitgestrek. Toe het Dawid en die oudstes, wat by hom was, met rouklere bedek, op hulle gesigte neergeval.

1 Kronieke 21