1 Korinthiërs 7:27-38 Die Pad van Waarheid tot die Lewe (PWL)

27. Is jy aan ’n vrou verbonde, moenie soek om los te wees nie; is jy los van ’n vrou, moenie ’n vrou soek nie,

28. maar as jy ’n vrou vat, sondig jy nie en as ’n maagd trou, sondig sy nie, maar sulke mense sal probleme hê aan die vlees en ek wil julle dit spaar.

29. Dit sê ek, broers, die bepaalde tyd is kort; van nou af moet ook die wat vroue het, wees asof hulle nie het nie

30. en die wat huil, asof hulle nie huil nie en die wat bly is, asof hulle nie bly is nie en die wat koop, asof hulle dit nie kry nie

31. en die wat hierdie wêreld gebruik, asof hulle nie vasgevang is daarin nie, want die toestand van hierdie wêreld gaan verby.

32. As gevolg hiervan wil ek hê dat julle sonder sorg moet wees. Die ongetroude gee om vir die dinge van sy Meester, hoe hy sy Meester kan tevrede stel,

33. maar die getroude gee om vir die dinge van die wêreld, hoe hy die vrou sal tevrede stel.

34. Daar is ook verskil tussen ’n vrou en ’n maagd: die ongetroude gee om vir die dinge van haar Meester, om afgesonderd te wees na liggaam sowel as na gees, maar die getroude gee om vir die dinge van die wêreld, hoe sy haar man sal tevrede stel.

35. Ek sê hierdie dinge tot julle eie voordeel, nie om julle te beperk nie, maar dat julle getrou aan julle Meester sal wees op ’n mooi manier en nie aandag gee aan die wêreld nie.

36. As iemand meen dat hy tot skande gemaak word deur sy maagdelike dogter as sy oor die fleur van haar jeug is en hy haar nie vir ’n man gegee het nie en dit is gepas om haar te gee, sondig hy nie. Sy mag trou.

37. Hy wat waarlik vasstaan in sy gedagtes en nie onder dwang verkeer vir plesier nie, maar outoriteit het oor sy eie wil en dit in sy eie verstand, wil en emosie besluit het om sy dogter ’n maagd te hou, hy doen goed;

38. daarom, hy wat sy maagdelike dogter in die huwelik uitgee, doen goed, maar hy wat nie sy maagdelike dogter in die huwelik uitgee nie, doen beter.

1 Korinthiërs 7