1 Korinthiërs 14:24-35 Die Pad van Waarheid tot die Lewe (PWL)

24. As almal van julle sal profeteer en daar ’n ongelowige of ’n oningeligte inkom, dan word hy deur almal ondersoek en deur almal aangespreek

25. en die geheime van sy denke, wil en emosie word openbaar en dan sal hy op sy gesig neerval, God aanbid en sê dat God werklik in julle is.

26. Ek sê daarom my broers, dat wanneer julle bymekaarkom, wie van julle ook al ’n gedig met musiek het, laat hom praat, of wie ook al ’n lering of ’n taal of ’n openbaring of ’n vertaling het, laat alles wees tot opbouing.

27. As mense in ’n taal praat, laat dit dan wees twee of hoogstens drie; laat elkeen praat en laat een vertaal,

28. maar as daar geen vertaler is nie, laat hy wat in ’n taal praat in die gemeente stilbly en laat hy net met homself en met God praat.

29. Laat twee of drie profete praat en laat die ander dit onderskei

30. en as daar iets openbaar word aan ’n ander een wat sit, laat die eerste een stilbly,

31. want julle kan almal een vir een profeteer sodat almal kan leer en almal versterk word,

32. want die gees van die profeet is aan die profeet gehoorsaam,

33. want God is nie ’n God van onbeheersdheid nie, maar van vrede, gesondheid, voorspoed en vergenoegdheid. Soos in al die gemeentes van die afgesonderdes

34. moet julle vrouens in die gemeentes stilbly, want dit is hulle nie toegelaat om te praat nie, maar om gehoorsaam te wees, net soos die geskrewe wet sê.

35. As hulle iets wil leer, laat hulle by die huis hulle eie mans vra, want dit is skandelik vir daardie vrou om in die gemeente te praat.

1 Korinthiërs 14