1 Konings 6:3-14 Die Pad van Waarheid tot die Lewe (PWL)

3. Die buiteportaal, aan die voorkant van die hoofdeel van die huis, was twintig el in sy lengte, ooreenstemmend met die breedte van die huis en tien el diep aan die voorkant van die huis.

4. Hy het ook vir die huis vensters gemaak met kunstige rame.

5. Teen die muur van die huis het hy verdiepings gebou reg rondom die mure van die huis, rondom die hoof vertrek en die binneste vertrek; so het hy sykamers reg rondom gemaak.

6. Die onderste verdieping was vyf el breed, die middelste ses el breed en die derde sewe el breed, want hy het insnydings in die muur van die huis reg rondom gemaak sodat die balke nie in die mure van die huis ingevoeg word nie.

7. Die huis, in die bou daarvan, is gebou met klippe wat klaar voorberei is by die breekplek en daar was geen hamer, byl of enige ystergereedskap, in die huis gehoor terwyl dit gebou is nie.

8. Die ingang vir die onderste sykamer was aan die regterkant van die huis en hulle sou opgaan met wenteltrappe na die middelste en van die middelste na die derde.

9. Hy het die huis gebou en dit klaar gemaak en hy het die huis bedek met balke en planke van sederhout.

10. Hy het ook bykomende kamers vas teen die hele huis gebou; elkeen was vyf el hoog en hulle was vas aan die huis met balke van seder.

11. Die woord van יהוה het tot Shlomo gekom en gesê:

12. “Aangaande hierdie huis wat jy besig is om te bou, as jy in My wette loop en My verordeninge uitvoer en al My opdragte hou deur daarin te loop, dan sal Ek My woord uitvoer wat Ek met jou vader Dawid gepraat het.

13. Ek sal tussen die seuns van Yisra’el bly en My volk Yisra’el nie in die steek laat nie.”

14. Shlomo het die huis gebou en dit voltooi.

1 Konings 6