1 Konings 17:8-22 Die Pad van Waarheid tot die Lewe (PWL)

8. Toe kom die woord van יהוה na hom en sê:

9. “Staan op, gaan na Tzarfat wat in Tzidon is en bly daar; let op, Ek het ’n weduwee daar beveel om vir jou te voorsien.”

10. Hy het opgestaan en na Tzarfat gegaan en toe hy by die hek van die stad kom, let op, was ’n weduwee besig om daar houtjies bymekaar te maak en hy roep haar en sê: “Gaan haal asseblief vir my ’n bietjie water in die houer sodat ek kan drink.”

11. Terwyl sy gaan om dit te gaan haal, roep hy na haar en sê: “Bring asseblief vir my ’n stukkie brood in jou hand.”

12. Sy antwoord egter: “So waar as יהוה, u God, leef, ek het geen brood nie, net ’n handvol meel in die houer en ’n bietjie olie in die kruik en let op, ek maak nou ’n paar houtjies bymekaar sodat ek in kan gaan en vir my en my seun kan voorberei sodat ons dit kan eet en sterf.”

13. Toe sê Eliyahu vir haar: “Moenie vrees nie, gaan, doen soos jy gesê het, maar maak eers daarvan vir my ’n klein broodkoekie en bring dit uit vir my; daarna kan jy vir jóu en jou seun maak,

14. want so sê יהוה, die God van Yisra’el: ‘Die meel in die houer sal nie uitgeput raak of die olie in die kruik leeg word nie, tot op die dag dat יהוה reën op die aarde sal gee.”

15. Sy het gegaan en gedoen volgens die woord van Eliyahu en sy, hy en haar huishouding het vir baie dae lank geëet.

16. Die meel in die houer is nie uitgeput en die olie in die kruik het nie leeg geword nie, volgens die woord van יהוה wat Hy deur Eliyahu gesê het.

17. Dit het gebeur ná hierdie dinge dat die seun van die vrou, die eienares van die huis, siek geword het en sy siekte was so ernstig dat daar geen asem in hom oor was nie.

18. Sy sê vir Eliyahu: “Wat het ek met u te doen, man van God? U het na my gekom om my oortredinge in herinnering te bring en my seun dood te maak!”

19. Hy antwoord haar: “Gee vir my jou seun. Toe het hy hom van haar bors af weggevat en hom opgedra na die bo-kamer waar hy gebly het en hom op sy eie bed neergelê.

20. Hy het na יהוה toe uitgeroep en gesê: “יהוה, my God, het U ook oor die weduwee by wie ek bly, ’n onheil gebring deur haar seun te laat sterf?”

21. Toe het hy homself drie maal uitgestrek oor die seun en יהוה aangeroep en gesê: “יהוה, my God, ek vra U, laat hierdie seun se lewe na hom terugkeer.”

22. יהוה het Eliyahu se stem gehoor en die lewe van die seun het na hom toe teruggekeer en hy het weer geleef.

1 Konings 17