Spreuke 30:6-16 Die Boodskap (DB)

6. Moenie die Here se woorde verdraai of verkeerd uitlê nie. Hy sal jou straf en die mense sal nie meer na jou luister nie.

7. Here, daar is twee dinge wat ek van U vra. Twee dinge wat ek graag in hierdie lewe wil hê:

8. laat my nie ’n vals mens wees nie, laat ek nie ander belieg en bedrieg nie. Laat my nie ryk of arm wees nie. Gee U my net wat ek elke dag nodig het

9. sodat ek nie ryk word en ophou om U lief te hê, of arm word en begin steel en so u wet oortree nie.

10. Moenie iemand by sy baas loop en beskinder nie. Hy sal dit uitvind en dan is jy in die moeilikheid.

11. Daar is vier soorte mense uit wie se pad jy moet bly: kinders wat hulle ouers vloek en mishandel;

12. mense wat dink hulle is goed, maar wat nie hulle eie tekortkomings besef nie;

13. arrogante mense wat te veel van hulleself dink, en

14. wrede mense wat ander doodmaak en niks vir die armes en die swakkes omgee nie.

15. Iemand wat altyd meer en meer wil hê, ken net twee woorde: gee, gee.

16. Daar is drie “dinge” wat nooit tevrede gestel kan word nie, vier wat nooit genoeg kry nie: dit is die dood, die moederskoot van ’n kinderlose vrou, ’n dorre landskap tydens droogte en ’n vuur wat aanhou brand.

Spreuke 30