23. Wie die Here liefhet, het die lewe. So ’n mens ken baie vreugde. Hy smaak die lewe in sy volheid. Hy lewe rustig.
24. ’n Luiaard is selfs te lui om te eet. Hy sit by die tafel, sien die lekker bord kos, sit dit op sy vurk, maar raak aan die slaap voordat dit in sy mond kom.
25. Iemand wat baie van homself dink, moet eers hard aangespreek word voordat hy luister. ’n Ligte vermaning is vir ’n wyse genoeg. Hy weet wat om te doen.
26. Wie sy pa sleg behandel en sy ma verneder, is ’n veragtelike en ’n verfoeilike mens.
27. Jy kan net wysheid kry as jy bereid is om te leer, as jy jou voorneem om die regte dinge op die regte tyd te doen en te sê.
28. ’n Vals getuie verdraai die waarheid doelbewus. Hy geniet dit om ander af te kraak. So ’n mens steur hom nie aan wat reg is nie.
29. Wie wysheid verwerp, word ’n ongelukkige mens. ’n Domkop wat nie weet hoe om reg te leef nie, maak skandes en ly groot skade.