Sefanja 2:6-15 Die Boodskap (DB)

6. Die gedeelte langs die see sal ’n weiplek vir vee wees met hutte vir die veewagters om in te bly en krale vir die vee.

7. Nadat die Here sy straf uitgedeel het, sal hierdie kusgedeelte die eiendom word van die mense van Juda wat sal oorbly. Hulle sal in die vlaktes langs die see bly en in die aand in die leë huise in Askelon slaap. Dit sal gebeur omdat die Here wat hulle God is vir hulle omgee en wil hê dat hulle in goeie omstandighede moet lewe.

8. Die Here sê dat Hy gehoor het hoe die mense van Moab en Ammon, Israel se bure, hulle slegsê en met hulle spot. En dan praat hulle ook nog groot oor hoe hulle Israel se grond gaan afvat.

9. Die Here is Israel se God en alles in die wêreld behoort aan Hom. Hy sê, so waar as wat Hy leef, Hy sal Moab en Ammon verwoes soos Hy met Sodom en Gomorra gemaak het. Oral in hierdie gebied sal daar brandnetels en brak kolle wees, ’n woeste en verlate plek waar mense nooit weer sal kan bly nie. Die mense van Juda wat die straf van die Here sal oorleef, sal hierdie volke beroof en hulle grondgebied oorvat.

10. Al hierdie negatiewe dinge sal met Moab en die Ammoniete gebeur omdat hulle so arrogant is en so baie van hulleself dink. Hulle probeer Juda, wat die Here se volk is, belaglik maak. Hulle beledig sy mense.

11. Hierdie mense sal benoud raak as hulle net aan die Here dink, want Hy laat al die gode van die wêreld in die niet verdwyn. Al wat ’n nasie is, in watter land hulle ook al is, sal Hom aanbid.

12. Die Here sal ook die mense van Etiopië doodmaak.

13. Die mense in die noordelike landstreke waar die land Assirië is, sal deeglik besef hoe magtig die Here is. Hy sal hulle hoofstad Nineve soos ’n woestyn maak waar daar nie water is nie en mense nie kan oorleef nie.

14. Die stad sal ’n weiplek vir beeste en skape word en allerhande soorte wilde diere sal dit ’n lêplek maak. Uile sal in stukke van mure wat nog so half bly staan het, sit en hulle kenmerkende geluide maak. Bourommel sal in die deuringange lê en die deurrame van sederhout wat uit die kosyne uitgeruk is, sal daar rondlê.

15. Dit is wat met hierdie stad en sy arrogante mense gaan gebeur. Hulle het gedink hulle is altyd so veilig binne-in die stad. Hulle het altyd gespog dat daar nie nog so ’n stad soos hulle s’n is nie. Maar die stad sal ’n plek word waar mense nie sal kan bly nie. Wilde diere sal dit hulle lêplek maak. As mense daar verbystap, sal hulle stom van verbasing wees. Hulle sal nie glo wat hulle met hulle eie oë sien nie.

Sefanja 2