22. God kan dieselfde met ons doen. Sommige mense hier op aarde is soos kleipotte waarvan God net mooi niks hou nie. Hy staan reg om hulle met sy groot krag te vernietig. Tog verdra Hy hulle geduldig.
23. Op dié manier wil Hy wys hoe groot sy goedheid is oor al daardie mense met wie Hy tevrede is. Hulle is die kleipotte op wie die hemelse Pottebakker baie trots is. God het vir hulle ’n plek in sy nuwe wêreld voorberei. Daarom stort Hy sy genade in oorvloed oor hulle uit.
24. God kies gelukkig nie net Jode uit om sy kinders te wees nie. Nee, ook mense uit ander volke word deur Hom geroep om in Hom te glo.
25. Dit is presies net soos God in die profeet Hosea sê: “Vir mense wat nie my volk is nie, sal Ek sê: ‘Julle is nou my volk.’ Vir haar wat geen liefde ken nie, sal Ek sê: ‘Jy is my beminde.’
26. Op plekke waar mense vir hulle gesê het: ‘Julle is nie deel van God se volk nie,’ juis daar sal nou gesê word: ‘Julle is kinders van die lewende God!’”
27. Die profeet Jesaja sê van Israel:“Al is die Israeliete se getalle so baie soos al die seesand, sal daar slegs ’n klein groepie van hulle gered word.
28. Die Here sal sy plan met groot krag hier op aarde laat waar word.”
29. Jesaja het ook op ’n ander plek gesê:“As die Here, die Almagtige, nie vir ons ’n nageslag oorgelaat het wat in Hom bly glo nie, sou ons net soos Sodom geword het, sou ons net soos Gomorra verwoes gewees het.”
30. Wat is ons gevolgtrekking oor dit wat ons gesê het? Dít: mense uit ander volke wat nie eens probeer het om in die regte verhouding met God te kom nie, leef nou in vrede met Hom. God het hulle van hulle sondes vrygespreek omdat hulle in Hom glo.
31. Aan die ander kant het Israel, wat van vroeg tot laat die wet probeer hou het sodat hulle in die regte verhouding met God kon wees, dit nie reggekry nie.
32. Hoekom? Wel, omdat hulle die wet heeltemal verkeerd gehou het. Hulle het gedink dat God hulle moes beloon vir al hulle goeie dade. Hulle het nie eens die Messias herken toe Hy voor hulle in die pad kom staan het nie. Daarom het hulle oor Christus gestruikel.
33. Dit is waar wat Jesaja oor hulle geskryf het: “Oppas! Ek het ’n groot rots daar op die berg Sion, die plek van verlossing, neergesit. As jy nie mooi kyk nie, gaan jy daaroor val. Hy is ’n rots wat vir baie mense aanstoot gee. Elkeen wat in Hom glo, sal nooit oor Hom struikel of val nie.”