1. Julle weet mos hoe die wet werk. Dit geld net solank jy leef, of hoe? Kom ek verduidelik dit met die beeld van ’n huwelik.
2. ’n Getroude vrou is wettig aan haar man verbind solank hy leef. Maar as haar man dood is, is sy vry om weer te trou.
3. As sy egter by ’n ander man gaan bly terwyl haar man nog leef, pleeg sy egbreuk. Maar as haar man dood is, staan dit haar vry om weer te trou. Dan tree sy glad nie verkeerd op nie.
6. Ons is nie meer met die wet “getroud” nie, maar met Christus. Ons kan nou regtig tot eer van God leef. Voordat ons gelowiges was, het ons al die sondes gedoen waarteen die wet ons waarsku. In plaas daarvan dat die wet die mag van die sonde in ons lewens onder beheer gebring het, het dit ons aangevuur om die vieslikste dinge aan te vang. Ons was in die voorportaal van die doderyk omdat ons daardie dinge gedoen het wat die wet verbied. Maar nou is die doodsgreep van die wet op ons lewens vir altyd gebreek. Nou hoef ons ons nie meer aan allerhande reëls op papier te hou om by God uit te kom nie. Ons het nou deel aan die nuwe lewe wat die Gees bring.
7. “Is dit dan ’n sonde om die wet te hou?” hoor ek een van julle vra. Nee, glad nie. Die wet sê juis vir ons wat sonde is. Ek sou mos nie geweet het dat ek nie mag begeer nie as die wet nie gesê het nie: “Jy mag nie begeer nie.”
8. Tog help hierdie kennis nie veel nie, want die wet maak dat die sonde ’n vastrapplek in my lewe kry. In plaas daarvan dat die wet my keer om te sondig, maak dit my net bewus van my slegte begeertes - en laat my ook alles begeer wat deur die wet verbied word. As die wet nie daar was nie, sou sonde glad nie ’n probleem gewees het nie.
9. Voordat daar ’n wet was, het ek nie mooi geweet wat reg en wat verkeerd is nie.
10. Maar vandat God se wet op skrif gestel is, is daar geen verskoning meer nie. Toe het sondes skielik name gekry. Nou weet ek baie goed wat sonde is. Die wet het my egter nie by die ware lewe uitgebring nie.